Benut bergpasse beter, ook vir besigheid
Ek hoop ek het die storie reg; dis lank gelede aan my vertel. Vier werkers in diens van die Nederlandse Kompanjie aan die Kaap in die 1650’s het besluit om te dros. Hul kies toe koers, ooswaarts, al langs die Valsbaai-kus, met die langtermyndoelwit om by die halfbekende [vir hulle] Mosselbaai uit te kom. In die omgewing van die huidige Gordonsbaai het hul braaf besluit om die Steenbrasberg oor te steek. Toe hul bo uitkom, sien hul net berge en nog berge. Moedeloos het hul besluit om druipstert om te draai. Die misdaad is bely, maar die straf was steeds swaar.
Asem diep in vir die volgende lysie.
Dis, volgens my haastige oordeel, die Wes-Kaap se mees skouspelagtige bergpasse: Piekenierskloof, Pakhuis, Chapmanspiek, Du Toitskloof, Bainskloof, Sir Lowrys, Houwhoek, Clarence langs die see, Tradouw, Garcia, Gysmanshoek, Swartberg, Meiringspoort, Robinson, Montagu, Outeniqua, Sewe Passe, Prins Afred, Grootrivier en Bloukrans. Asem uit. Natuurlik kan ek geraps word oor my keuse wat gou-gou op geheue neergeskryf is. Etlike lesers mag vra wat van dié een, wat van daai ene? Onomstootlik blyk dit ons het indrukwekkende bergpasse in ons provinsie.
Hollandse Oos-Indiese Kompanjie het geen deur vir die Kaapse binneland oopgehad nie. Dié “firma” se seegerigtheid blyk duidelik teen 1670 uit sy 40 vegvaartuie, 150 handelskepe en 10 000 soldate. Die Kaap was bedoel as ‘n halfwegstasie vir die hervulling van kos en water. Téén die gestelde beleid, is die noodsaak erken en berge is oorgesteek - reeds in 1655 is in die Overberg vir vee onderhandel is.
Toeristies was ons, wat my aanbetref, tot onlangs aan die slaap oor die bemarking en benutting van ons unieke Wes-Kaapse bergpasse. Maar avontuur-toerisme kom tans sterk na vore, veral opgeslurp deur Chinese, Japannese en Russe. Bykomend en verblydend wil Suid-Afrikaners deesdae al meer staproetes hê, ook in bergstreke.
Die Outeniquaberg noord van George huisves op onvergelyklike wyse vier bergpasse en internasionale toeriste slaan dit hoog aan.
Eerstens is die roete van die ou Cradockpas veronderstel om met wit merkerklippe duidelik te wys.
Die Montagupas (1847) is die enigste pas in Suid-Afrika wat steeds in sy oorspronklike toestand gebruik word, met die Swartbergpas, in ‘n sekere sin, kort op sy hakke. Dit is gebou om die Cradockpas te vervang en het die algemene reistyd van drie dae na drie uur verminder. Die moderne Outeniquapas is tussen
1943 en 1951 gebou en reeds in 1993 en 1997 opgegradeer. Die vierde een is die spoorwegpas wat tragies weens brandskade aan sowat 5 000 dwarslêers steeds gesluit bly.
Dit is moontlik om unieke, saambindende toerisme-bedrywighede [dus ook sakeondernemings] in die bogenoemde berg- en aanliggende gebiede daar te stel, sonder om die natuurlike omgewing enigsins te benadeel.
Die Montagupas is die uitmuntende katalisator hiervoor. Daar is reeds die ou tolhuis in die suide en die Herold Meander in die noorde. ‘n Hele aantal verdere planne is stewig op pad. Mag die huidige pogings deurbrake maak met wapperende vaandels van sukses, anders as vele beloftes en mislukkings van die verlede. Bel 082 445 1998 vir inligting.
Ons Wêreld / Our World verskyn elke tweede week.