George Herald

Ooggetuie vertel haar storie

- Kristy Kolberg

Hy het géén poging aangewend om te stop nie. Sy oë was stokstyf in sy kop en sy arms reguit en sy hande geklem aan die stuurwiel. Só skets 'n ooggetuie die prentjie van die mees onlangse Voëlklip-voorval toe 'n sakeman van Port Elizabeth op Woensdag 29 Januarie met 'n huurmotor by die Voëlklip-uitkykpunt afgejaag het.

"Ek en my kuiergaste het tot by die uitkykpunt gestap toe ons die wit EcoSport sien aankom. Hy het baie vinnig gery. Ek kan onthou ek het nog gewonder hoe hy gestop gaan kry, maar hy wou duidelik nie stop nie," sê die ooggetuie wat gevra het dat haar naam weerhou word.

"Ons is hier met vakansie en ek stap byna elke dag na die uitkykpunt toe. Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat ek ooit so iets in my lewe sou aanskou nie. Dit was so bisar."

Volgens haar het die man nie op hulle afgepyl nie. "Hy het na regs gedraai en by die krans afgery. Dit was nie 'n ongeluk nie. Ek dink nie hy het ons eers daar gesien staan nie."

Hulle het hom glo probeer stop, maar hy het nie aan hulle gehoor gegee nie. Dadelik na die voertuig by die krans afgestort het, het die ooggetuies die nooddienst­e geskakel. Die 52-jarige man se liggaam is langs die voertuig op die rotse gevind.

Die herwinning van die liggaam het sowat vier ure geduur en moes per helikopter uitgevoer word. Metro-reddingswe­rkers is deur die Rooikruis se reddingshe­likopter na die liggaam geneem waarna hulle die liggaam bedek en aan 'n draagbaar vasgemaak het. Daarna is die liggaam deur die reddingswe­rkers in die helikopter terug na die uitkykpunt geneem waar forensiese patologied­ienste dit ontvang en weggeneem het. Die motor is nie herwin nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa