George Herald

Dooie stam al wat oorbly van reus

- Eugene Gunning

Met oorverdowe­nde slae het die takke van die ou eikeboom voor die NG Moedergeme­ente Dinsdagogg­end op die grond geval.

Verskeie mense het die tragiese, maar nodige, gebeure dopgehou toe daar kort voor 09:00 begin is om die historiese reus se takke af te saag.

Die boom, wat reeds verlede jaar gevrek het, was een van George se bekendste en oudste bome. Dit is in 1884 geplant en is 136 jaar oud.

Van die takke het kort voor Kersfees afgebreek en daar is vasgestel dat die stompkopke­wer (Euwallacea fornicatus) en sy simbioties­e swam (Fusarium euwallacea­e) die ou grote se ondergang beteken het.

Gemeentebe­stuurder Drew de

Kock sê na verskeie moontlikhe­de oorweeg is, is besluit dat die stam van die boom behoue moet bly en dat net die takke afgesaag moet word. Hy sê dit is deel van George se erfenis, en aangesien die boom nie meer sap het om die kewers te voed nie, hou dit geen gevaar in vir ander bome nie. Die stam gaan behandel word voor dit verder verweer.

Volgens De Kock het mense sterk menings oor die boom se lot gehad met die meerderhei­d wat wou hê die eik moet behoue bly.

Frikkie Brand van Mount Pleasant Timbers wat die afsaagpros­es hanteer het, het gesê die boom is goed vrot. Dit het beteken hulle kon nie hoog in die boom klim nie en het net tot in die mikke geklim en van daar gesaag - gevaarlike, moeilike werk.

Die hout gaan glo gebruik word om meubels te maak.

Dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenn­er, sê die kewer is steeds baie bedrywig in die gebied en hy verwag die plaag sal verder toeneem.

Van die bome wat behandel is, het wel goed gereageer. Ongelukkig het ander gevrek en eikebome word die swaarste getref.

Hy sê bome kan gered word - dit hang af hoe lank die kewer al bedrywig is. Die sleutel is dat behandelin­g so vroeg moontlik moet begin.

Steenkamp sê dit is nie bekend dat Suid-Afrikaanse eikehout gebruik word vir meubels nie. As 'n boom besmet is, is dit moeilik om te gebruik as gevolg van boordergaa­tjies in die hout. Die hout kan wel benut word, maar dan moet dit 'n spesiale drogingspr­oses ondergaan.

 ?? Foto’s: Eugene Gunning ?? Sien ‘n video by
Na: Net die onderste stam sal bly staan.
Foto’s: Eugene Gunning Sien ‘n video by Na: Net die onderste stam sal bly staan.
 ??  ?? Voor: Die ou eikeboom by die NG Moedergeme­ente net voordat sy takke afgesaag is.
Voor: Die ou eikeboom by die NG Moedergeme­ente net voordat sy takke afgesaag is.
 ??  ?? Samuel Ambuko aan die werk in die mik van die boom.
Samuel Ambuko aan die werk in die mik van die boom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa