Dis oukei om nie oukei te wees nie
Oor ’n paar dae werk ek al reeds een jaar by die Graaff-Reinet Advertiser; waarheen is die tyd? Die geleentheid om die stad te verruil vir ’n kantoor duskant die Vallei van Verlatenheid het soos iets uit ’n fliek gevoel. Totsiens verkeer en lugbesoedeling, hallo oop vlaktes en etes onder die Karoo-sterre. Die plan was om gesonder en gelukkiger te leef in die Karoo: om disse te maak met bestanddele uit die kruietuin, meer boeke – régte boeke waarmee jy kan opkrul en lees, soek, want met nagmerries kan ek nie meer nie.
“Is jy van Graaff-Reinet?” wil ’n vrou in die ry weet. Kommunikasie is maar moeilik deesdae, ek noem dit mass(k) communication, maar ek hoor darem sy is van Jansenville. “Nie oorspronklik nie, maar ek werk nou hier,” verduidelik ek.
Toe kom die vraag wat ek vrees: “Waar werk jy?” Dis nie dat ek nie omgee om koerant-klagtes tydens inkopies te hanteer nie, ek is bly as die gemeenskap met my gesels. Soms raak dit net ietwat ongemaklik, veral as ek in die toiletpapierry is. “By die, erm, Advertiser,” sê ek toe. “Ek lees weekliks die Advertiser front to back,” sê die vrou toe, “en ek geniet altyd jou stories. Jy klink so, vivacious!”
Ek voel ek druk die vrou sommer, maar, jy weet, social distancing. Tussen huismense mis, Covid-spanning en daai slapelose nagte, is dit lekker om ’n vriendelike gesig te sien.
Daardie aand maak ek kos, van scratch, met kruie uit die tuin. Ek sit musiek aan wat my gelukkig maak, eet onder die Karoo-sterre, en bel my ma: “Mense koop nog die koerant, ons gaan oukei wees.” En ons almal gaan oukei wees, al voel dit nie altyd so nie. Eendag (ek weet nie wanneer nie), gaan hierdie virus en inperking verby wees. Ons gaan mekaar weer kan sien vir Karoo-kuiers, praat oor die boeke waarvoor ons nou tyd maak, en ’n glasie skink vir gesondheid. Ons gaan die stof afskud en vorentoe beweeg, want dis mos wat Karoo-mense doen.
Tot dan, hang in there, want dis oukei om nie oukei te wees nie.
Paula-Ann Smit is die redakteur van Graaff-Reinet Advertiser