George Herald

Armes ly die meeste

-

Fabu-lynn Unique Lindoor, George:

Sedert die aanvang van die inperking, het die regering glad nie minderbevo­orregte mense se sosiaal-ekonomiese status in ag geneem toe hulle die regulasies gemaak het nie.

Aanvanklik was publieke vervoer beperk tot sekere tye wat dit moeilik gemaak het vir pendelaars om kruidenier­sware te koop en na klinieke of hospitale te gaan vir medikasie.

Mense wat toelae ontvang, moes vir ure in rye staan. Daar was selfs gevalle waar mense glad nie toelaes gekry het nie.

Oor die verbod op alkohol en sigarette is geen duidelike mediese verduideli­kings gegee nie. Een van die afgesaagde redes wat verskaf was, is dat Covid-19 ‘n respirator­iese siekte is. Maar my vraag is, is siektes soos asma, tuberkulos­e, brongitis en emfiseem nie ook respirator­iese siektes nie? Hoeveel mense sterf jaarliks aan hierdie tipe siektes? Derduisend­e!

Mense rook al vir jare en hulle is bewus van die gevare. Hulle het tog sekerlik die reg om te besluit wat in hul liggame ingaan? Reg? Of mis ek iets?

Die ander kwessie wat opslae maak is die heropening van skole. Dit vat net een kind wat die virus het en asimptomat­ies is om ‘n hele skool aan te steek. Ja, daar gaan elke oggend blykbaar screenings gedoen word, maar meeste mense wys aanvanklik geen simptome nie. Jy mag vandag piekfyn wees en ‘n week later is jy bedlêend.

Kinders in townships het dikwels hul oumas en oupas met siektes soos hoë bloeddruk en diabetes as voogde. En hoe gaan daar verseker word dat publieke vervoer veilig genoeg is?

Die regering het aanbeveel dat mense wat nie hul kinders skool toe wil stuur nie, homeschool met toestemmin­g van die onderwysde­partement, maar wat van mense wat dit nie kan doen nie? Benadeel dit nie kinders wat nie ‘n ander keuse het as om skool toe te gaan nie, aangesien ouers vervolg gaan word wat nie hul kinders skool toe stuur nie? En indien een die virus opdoen, hoe is hulle veronderst­el om te self-isolate in ‘n eenvertrek­plakkershu­is? Dit het ook ‘n negatiewe invloed op sielkundig­e gesondheid. Dis nie lekker om met onsekerhei­d in vrees te leef nie.

‘n Paar maande gelede, voor die virus hier kop uitgesteek het, het die regering beweer hulle is gereed, maar ek is glad nie oortuig nie. As die verbod op kledingstu­kke en geroosterd­e hoender 'n aanduiding is van die gesondheid van mense, dan laat dit my wonder of dit die moeite werd is om in die volgende verkiesing vir die heersende party te stem.

Hierdie virus het baie dinge in perspektie­f geplaas en ek hoop mense besef nou hoeveel ongelykhei­d daar in die land is. Hoeveel mense bevoorreg is en hoeveel mense elke dag baklei om ‘n stukkie brood op die tafel te sit.

Moenie dat jou privilege jou blind maak vir ander se pyn nie. Hê ‘n bietjie empatie en deernis vir ander. My hart en gebede gaan uit na almal.

(Brief verkort. Red.)

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa