George Herald

Denneoord-katte word afgemaai

- Kristy Kolberg

Kateienaar­s van Denneoord sit met hul hande in hul hare nadat nóg 'n kat in dié woonbuurt verlede week die slagoffer van 'n beweerde wreedaard met 'n windbuks geword het.

Volgens 'n katliefheb­ber en inwoner wat self al vier katte in Denneoord verloor het, Annelie Straus, het reeds minstens 100 katte die afgelope jaar beswyk aan menslik toegediend­e wonde, met skietwonde by die huis aangekom of net skoonveld verdwyn.

"Ek is al meer as 'n jaar besig om aan te teken waar die katte in Denneoord wegraak. Een van my katte, Matewis (10), het verlede jaar verdwyn. In 2015 is hy in ’n wip gevang en hy het tot by die huis gekruip met die tou om sy nek. My buurman moes in sy vel in sny om die tou los te knip. Ses maande later is hy deur 'n windbuksko­eël in die boud getref en Februarie 2019 het hy verdwyn. So al wat dit kan wees is dat iemand hom of doodgemaak het of hom binne hou dat hy nie kan uitkom nie, of hom op ’n ander plek afgelaai het. Iets wat ek nou begin ondersoek," sê sy.

Dalk wilde diere

Sommige inwoners meen dat baie van die gevalle aan rooikatte en honde toegeskryf kan word. Strauss stem egter nie volkome saam nie. "Ek sal toegee dat daar dálk gevalle is waar uile, arende, rooikat ens. ons katte vang, veral langs die groenstroo­k, maar as dit wilde diere was sou Heatherlan­ds, Glenbarry, Fernridge, Bergsig, Denverpark en Eden met dieselfde probleem gesit het. Hulle doen nie.

Vir te lank kon iemand wat ons troeteldie­re doodmaak wegkruip onder die dekmantel van rooikat. Weekliks hoor jy van 'n kat wat weg is, vergiftig, geskiet of net spoorloos verdwyn het. Hier is duidelik iets wat ons katte in Denneoord teiken, en dis nie ’n rooikat nie," sê Strauss.

DBV word ingeroep

Die DBV se hulp is ook reeds ingeroep en volgens die Tuinroete-DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, kan hulle bystand bied om die persoon of persone aan te kla indien hulle weet wie dit is. "In die stadium weet ons iemand skiet die katte, maar niemand weet blykbaar wie dit is nie," sê sy.

Sy sê die belangriks­te is om die beseerde dier by 'n veearts te kry vir behandelin­g en om 'n verslag by die veearts te kry wat as bewyse kan dien wanneer 'n saak by die polisie gemaak word.

"Indien mense ons kan ondersteun met donasies kan ons 'n kontantbel­oning aanbied vir iemand wat vir ons inligting kan gee wat tot ‘n suksesvoll­e arrestasie lei. Iemand moet weet wie dit doen," sê sy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa