George Herald

Aaklige oggend het positiewe einde

-

Hannes Visser, Oudtshoorn: Ons is so geneig om te kla oor diens, maar na ‘n voorval in George Saterdag was die diens wat ek by verskeie instansies ontvang het, puik. My beursie en selfoon is in ‘n arkade langs Standard Bank gegryp. Nodeloos om te sê was ek hopeloos te stadig om die twee jong grypdiewe in te haal en teen die tyd dat ek in Hiberniast­raat aangekom het, was hulle waarskynli­k reeds ‘n blok weg. Ek en my vrou het die dringende take verdeel. Sy is na twee banke toe om kaarte te stop en ek is polisie toe en Vodacom toe om my selfoon te laat deaktiveer. Daarna is ek ook na die derde bank toe. By Standard Bank, Nedbank en Capitec was rye en rye mense, maar by elke bank het hulle ons onmiddelli­k laat ingaan om ons kaarte te stop.

Dit het letterlik vyf minute by elke bank geneem voordat ons voor iemand gesit het om al die nodige reëlings te tref.

By Vodacom was ook ‘n ry mense, maar die assistent het aan hulle verduideli­k en my dadelik gehelp om my foon te deaktiveer en ‘n nuwe simkaart te kry. Die polisiesta­sie was gesluit as gevolg van ‘n Covid-19-geval, maar ‘n amptenaar het my buite ontvang, my besonderhe­de geneem en dadelik voertuie in die omgewing laat weet van die voorval en Sondag het ‘n speurder my geskakel.

Ek dink werklik ons is te geneig om oor enkele voorvalle van swak diens te kla terwyl ons daagliks op die meeste plekke goeie diens ontvang. Wat as ‘n aaklige oggend begin het, het heel positief geëindig danksy mense wat uit hulle pad gaan om goeie diens in moeilike tye te lewer. Dankie daarvoor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa