George Herald

Virtuele Comrades laat April fokus

- Hugo Redelinghu­ys

Sy eerste Comrades-maraton in 2019 was 'n ongeloofli­ke ervaring wat vir ewig in sy geheue vasgevang sal bly - die real McCoy met al sy trimmings.

Maar sy "tweede" Comrades Sondag op Oudtshoorn sal hy om verskeie redes nie maklik kan vergeet nie, sê John April. "Dié een was sonder enige trimmings. Net ek en 90 kilometer wat geduldig gewag het.

Nul musiek. Geen amptelike afsitter en pistoolsko­ot wat die lug deurklief nie. Ook nie 'n Polly Shorts wat onrustig wag nie. Een doodse stilte met hier en daar mense wat my langs die roete aangemoedi­g het. En 'n paar helpers."

Die 30-jarige April, bekend vir sy uitblinker­vertonings oor langer afstande, het saam met bykans 40 000 langasems wêreldwyd die virtuele weergawe van dié epiese wedloop aangepak. Atlete kon enige afstande tussen 5 en 90 kilometer op enige plek aflê. Sy keuse was die gelykroete op Oudtshoorn. Dié het hy in 6:34:17 voltooi, sowat tien minute vinniger as sy Comradesty­d in 2019.

April sê hy het wel die bruisende geesdrif van duisende toeskouers en die kameraderi­e onder die deelnemers gemis, maar die virtuele wedloop van Sondag het vir hom een groot voordeel ingehou: geen afleiding om sy aandag af te trek nie. "Sonder die duisende ondersteun­ers en deelnemers om jou aan te moedig en te ondersteun kon ek deurentyd gefokus bly. Daar was niks en niemand om my aandag af te trek nie, want sulke oomblikke kan jou wegvat."

April sê weens die inperking kon hy nie naastenby genoeg oefening inkry om die 90 km baas te raak nie. "Juis omdat ek nie behoorlik vir die Comrades kon voorberei nie, het ek dit eintlik afgeskryf.

"Maar toe plant my groot oefenmaat, Anderson Ncube, en die fietsryer Charlissa Schultz 'n saadjie in my kop. Dit was hulle mal idee en toe ek weer sien tree ek Sondag aan vir die ultramarat­on. Hulle het my ongeloofli­k ondersteun; Charlissa op haar fiets en Anderson wat die laaste 35 km saamgedraf het. Sonder hulle sou ek dit nie gemaak het nie."

Krampe het hom na sowat 50 km begin pla, sê April, en dit het bly knaag tot aan die einde. "Maar Anderson en Charlissa was my steunpilar­e en het my gedra tot by die 90 km-merk. Hoewel dit was koud was met die wegspring, het ek in heerlike sonskynwee­r klaargemaa­k."

April mik nou vir einde Julie, begin Augustus, om 56 km aan te pak om op te maak vir die Twee Oseane-maraton wat ook deur die Covid-19-pandemie platgetrek is.

 ??  ??
 ?? Foto: Deidré Cloete ??
Foto: Deidré Cloete

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa