George Herald

Drie oud-Kwaggas by Olimpiese Spele

- Eugene Gunning

Dit lyk of Hoërskool Outeniqua ‘n teelaarde vir die Olimpiese Spele is. Drie oudleerlin­ge, Elroy Gelant (34), Bianca Buitendag (27) en Jo-Ane van Dyk (23), neem vanjaar aan die sportskous­pel deel wat môre, 23 Julie, in Tokio, Japan begin en op 8 Augustus eindig.

Gelant, wat in 2004 in gr. 12 was, neem deel aan die maraton, Buitendag ‘n gr. 12-leerling in 2011, neem aan branderpla­nkry deel en Van Dyk wat in 2015 gr. 12 voltooi het, neem deel aan spiesgooi.

Buitendag is reeds in Japan, Van Dyk het Dinsdag 20 Julie vertrek en Gelant vertrek op 27 Julie.

Christo Vorster, hoof van die skool, het Maandag gesê al drie was harde werkers terwyl hulle by Outeniqua op skool was.

So byvoorbeel­d het Van Dyk, wat ‘n koshuisinw­oner was, soggens vroeg opgestaan om te oefen. Sy is oorspronkl­ik van Heidelberg. Hulle het nog ‘n gemene deler gehad naamlik dissipline.

Hulle was ook akademies goed en het reeds op skool gewys dat hulle oor potensiaal beskik om op sportgebie­d te presteer.

“Ons hoop hulle doen goed by die Olimpiese Spele en ons sal hulle prestasies dophou,” het Vorster gesê.

Gerhard Gibson, wat Gelant op skool afgerig het, het gesê daar is destyds moeite gedoen met atletiek by die skool.

Hy het Gelant die eerste keer in 2002 gesien toe hy aan ‘n pretloop deelgeneem het. “Ek wou by hom hoor of hy ‘n afrigter het. Hy het geantwoord hy hardloop net vir die pret.”

Gibson het gesê Gelant is gedissipli­neerd en doelgerig. Sy persoonlik­heid speel ook ‘n rol in sy prestasies. “Hy is ‘n baie gawe en beskeie mens.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa