George Herald

Egpaar sterk aan ná aanval

- Kristy Kolberg

Ons gaan beslis nie verhuis nie. Só sê Hennie Kotzé (62) na hy en sy vrou Hanlie (61) Sondagogge­nd, 21 Augustus, in hul huis in Standerstr­aat, Loeriepark, oorval en aangerand is.

Die Kotzé-egpaar het sowat vyf jaar gelede uit Pretoria na George verhuis om hier te kom aftree uit die onderwys. Hennie is ook ‘n atletiekaf­rigter.

“Dit was ‘n lewensdroo­m van my om hier te kom aftree. Ons gaan beslis nie verhuis nie,” het Hennie vandeeswee­k aan George Herald gesê.

Die egpaar is onlangs uit die hospitaal ontslaan en buiten die fisieke wonde, lê daar nog ‘n lang emosionele pad tot herstel.

Volgens die Kotzés was hulle in hul slaapkamer toe twee gewapende mans hul aangeval en vasgebind het.

“Een van hulle het ‘n koevoet (crowbar) gehad en die ander ‘n mes. Hulle het ons aanmekaar vasgebind. Ons kon dood gewees het,” vertel Hennie.

Gedurende die traumaties­e ervaring wat sowat ‘n uur en ‘n half geduur het, het Hennie verskeie steekwonde aan sy liggaam opgedoen en ernstige kopwonde waar hulle hom met die koevoet geslaan het. Hanlie kan nog nie haar arms en hande ten volle gebruik ná sy ook met die koevoet geslaan en in haar hande gesteek is, nie. Haar linkerpols is vergruis en sy het nóg ernstige wonde aan haar regterarm opgedoen.

“Ek het nog baie pyn en sukkel met my arms. Ek kan nog niks met hulle doen nie,” sê sy.

Aanvanklik­e inligting het getoon dat

Hanlie van buite teruggekee­r het toe sy die verdagtes in die huis betrap. Volgens die egpaar is dit egter nie wat gebeur het nie.

Hanlie vertel dat hulle hond, ‘n bokser, wat saam met hulle in die slaapkamer slaap, haar die oggend kort voor die voorval wakkergema­ak het. Toe sy hul kamerdeur oopmaak om die hond uit te laat was die twee verdagtes reeds by die deur en die volgende oomblik is hulle oorrompel en die hond is by die huis uitgegooi.

Die Kotzés is gedwing om hulle bankkaarte se PIN’s te gee waarna die verdagtes met ‘n onbekende bedrag kontant, selfone en ‘n verskeiden­heid juwele in die slagoffers se voertuig gevlug het. Die voertuig is later verlate naby Pacaltsdor­p gevind.

“Ons is nie seker waar hulle ingekom het nie,” sê Hennie.

Die egpaar ontvang reeds berading en daar lê nog baie doktersafs­prake voor, vóór hulle ten volle herstel.

“So iets is baie traumaties. Ons het nooit gedink dit sal hier met ons gebeur nie. Ons was nog altyd sekuriteit­sbewus, maar na dese is ons besig om ons sekuriteit op te skerp. Ek dink dit was ‘n wake-up call vir die hele George. Beveilig jou huis so goed soos jy kan.”

Koester jou vriende

Ten spyte van die aanval en die daaropvolg­ende trauma, bly dié lewenslust­ige paartjie steeds positief en is dankbaar vir al die ondersteun­ing vanoor die land.

“Die ondersteun­ing wat ons ervaar, nie net plaaslik nie, maar vanoor die land, is fenomenaal en ons bedank ieder en elk.

Jou vriende is jou lewensaar. Jy moet hulle koester,” sê Hanlie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 ?? ?? Hanlie en Hennie Kotzé is lief vir die buitelewe. Hulle sterk tans tuis aan ná ‘n aanval wat hul lewens kon kos.
Hanlie en Hennie Kotzé is lief vir die buitelewe. Hulle sterk tans tuis aan ná ‘n aanval wat hul lewens kon kos.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa