George Herald

Ons moet hoop plant

- Eugene Gunning

‘n Besondere toneel het Sondagogge­nd, 21 Augustus, langs die NG Moedergeme­ente se kerkgebou afgespeel waar dr. Steve van der Walt en lede van die gemeente na die erediens ‘n boom geplant het. Dit was egter nie sommer net ‘n boom nie, die boomplante­ry het ‘n lang aanloop gehad.

‘n Oplettende inwoner Allison Holiday, het 12 akkers van ‘n geskiedkun­dige boom in April 2017 raakgesien en opgetel. Sy het van dit aan die groei gekry.

Die geskiedkun­dige boom is reeds in 1884 geplant, maar is ‘n paar jaar gelede deur die stompkopke­wer en sy simbioties­e swam aangeval. Dit moes toe in 2020 afgekap word. Net twee van die boompies wat uit ontkieming van die akkers ontstaan het, het dit gemaak en Holiday het dit aan die kerk geskenk. Dis een van die boompies wat op 21 Augustus geplant is.

Saterdagmi­ddag, 20 Augustus, het ek ’n boodskap van dr. Van der Walt gekry waarin hy my uitnooi om die volgende oggend die erediens en die boomplants­eremonie by te woon.

Vroeg die volgende oggend het ek opgestaan en die sirene van ‘n noodvoertu­ig gehoor. Voor ek kerk toe is, het ek eers gaan kyk wat aan die gang is. ‘n Entjie verder af in die straat het ek op noodvoertu­ie en geel polisielin­te voor ‘n huis afgekom. Dit blyk toe dat ‘n egpaar vroeg daardie oggend in hul huis aangeval en beroof is. Dit het swaar op my gemoed gerus toe ek kerk toe ry.

Ek was ‘n hele rukkie te vroeg en ek het agterlangs in die kerk gaan sit. My gedagtes het ver teruggegaa­n.

Dis die kerk waar wyle pres. PW Botha seker dikwels gekom het. Wat het hy so voor ‘n erediens gedink? Het hy hoop gehad?

Ek het ook gedink aan my ouma aan moederskan­t. Sy het baie, baie lank gelede belydenis van geloof daar afgelê.

Sy en my oupa, wat later uit die destydse Port Elizabeth met hul klein dogtertjie (my ma) ‘n heenkome in die destydse Transvaal gaan soek het. Hulle het seker hoop gehad anders sou hulle nooit gegaan het nie.

Kort na 10:00 het ek saam met die gemeentele­de na buite gestap waar die boom geplant is.

Dr. Van der Walt het gesê daar is dankbaarhe­id dat die Here die twee boompies waarvan een die Sondag geplant is, op ‘n besonderse manier gegee het. “Mag ons altyd weet dat die Here by ons is en ons groei omdat Hy dit moontlik maak.” Dit is ‘n boom van hoop.

Later die dag het ek ‘n entjie gaan ry in die Outeniquap­as tot hoog op in die Outeniquab­erge.

By een van die uitkykpunt­e het ek gestop. In die verte was George. Daar waar die bose misdaadvoo­rval vroeg die oggend plaasgevin­d het. Maar ook daar waar ‘n paar uur vroeër ‘n boom van hoop by die kerk geplant is.

Daardie boom wat groei en lewe. Wat groter gaan word en ‘n doel gaan dien.

Die besef het by my kom vassteek: Ons moet “hoop plant”.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa