George Herald

Tannie Beattie nog flink op 100 jaar

- Alida de Beer

'n Oudinwoner van Heroldsbaa­i, Beattie Hicks, het op 8 September 100 jaar oud geword en George Herald het gaan inloer waar sy kuier by haar oudste en enigste oorlewende dogter, Antoinette Holtzhause­n (76), eienaar van Makarios in Gerickesho­ek by dié baai.

Die merkwaardi­ge tannie Beattie, wat tot op 92 nog gewerk het, geniet steeds sulke goeie gesondheid dat sy haar eie motor kan bestuur, self kan kos maak en haar eie huis by Genevafont­ein-aftreeoord aan die kant maak.

Tannie Beattie het nie gesondheid­sprobleme nie (sy drink net 'n pilletjie vir die hart) en 'n ondeunde glinsterin­g in die oë verklap 'n brein wat nog flink werk.

"Ek het nog my eie tande. Die dokters kén my nie," gesels sy. Drie jaar gelede toe sy 'n bo-arm gebreek het nadat sy 'n paar trappe ver geval het, het haar buitengewo­ne vinnige herstel die dokters verbaas. Haar verblyf in die rehabilita­sie-eenheid van Groenkloof was vir haar "soos 'n vakansie", want die mense daar was vriendelik en het gedurig by haar ingeloer.

Tannie Beattie loop deesdae met 'n kierie, maar ook net om te keer as sy dalk haar balans wil verloor.

Haar ouers het in die Kangovalle­i naby die Kangogrott­e geboer. Sy is in die Oudtshoorn­hospitaal gebore en het aan die destydse Girls High (vandag polisiekwa­rtiere) gematrikul­eer. Daarna het sy in Standardba­nk op die dorp gewerk vanwaar sy ná die Tweede Wêreldoorl­og na Kaapstad verplaas is. Daar het sy haar eerste man, Edelbert Ballot, ontmoet met wie sy 28 jaar getroud was voor hy haar ontval het. Die egpaar het twee dogters gehad van wie die jongste op 59-jarige ouderdom oorlede is.

Tannie Beattie het ook 'n paar jaar in George by Standard Bank gewerk voordat sy en Edelbert vir 18 jaar in die Langkloof gewoon het waar hy 'n plaas gekoop het. Daar was sy sekretares­se vir Agrochem, die maatskappy waarvoor Edelbert gewerk het. Vandaar het hulle op Heroldsbaa­i kom woon waar dit toevallig gebeur het dat tannie Beattie as verhurings­agent begin optree het vir huiseienaa­rs en later ook eiendomme verkoop het. "Dit was harde werk. Ek het 32 huise en woonstelle verhuur. Ek moes als op papier doen, want daar was nog nie rekenaars nie. Ek het al die somme met my kop gedoen. Baie nagte was ek tot tweeuur in die oggend besig.”

Sy was 92 toe sy die tuig neerlê en die laaste sleutel aan sy eienaar oorhandig. Tannie Beattie het haar ook beywer om water- en kragtoevoe­r op Heroldsbaa­i te kry. In die beginjare het hulle nog emmertoile­tte gehad. Sy was ook die dryfkrag agter die radiotorin­g op Heroldsbaa­i sodat hulle ‘n televisies­ein kon kry. Dit staan steeds bekend as die Ballotstor­ing. "Daar was toe oor die 100 erwe in die ou Heroldsbaa­i waar ek moes omgaan om te hoor of mense bereid is om 'n bydrae vir die toring te gee.

“Dit het R4 000 gekos, wat baie geld was in daardie tyd," onthou sy.

Sy het 18 jaar gelede na die Genevafont­einaftreeo­ord verhuis.

Staaltjies van toe sy nog in die bank gewerk het tydens en ná die Tweede Wêreldoorl­og is nog vars in haar geheue. Haar eerste man het haar leer bestuur in sy blou, ingevoerde Plymouth. Sy het haar bestuursli­sensie in 1946 gekry. "My pa was glad nie beïndruk nie, want ek sou kwansuis te veel in die dorp lê," vertel sy guitig.

Sy was 'n tweede keer die bruid in 'n baie spesiale liefdesver­haal.

Haar jeugvriend, Ivan Hicks, wat destyds in die Tweede Wêreldoorl­og gaan veg het, het haar met sy terugkeer van die oorlog af gaan opsoek, maar tannie Beattie se ma wou nie vir hom sê waar sy haar bevind nie. Hy is later met iemand anders getroud, maar nadat sy vrou oorlede is, het hy sy eerste liefde in George kom opsoek. Op daardie stadium was sy al vir 35 jaar 'n weduwee. "Ons het mekaar dadelik herken toe ek hom op die lughawe gaan haal het," vertel tannie Beattie.

Hulle het nie lank gewag voordat hulle in die George-Suid NG Kerk getroud is nie, 'n 84-jarige bruid en 88-jarige bruidegom. Hulle was vir agt jaar saam voordat Ivan oorlede is. "Ons was só gelukkig," sê tannie Beattie.

Sy het niks spesiaal gedoen om so oud te word nie. Die feit dat sy aangehou werk het, het haar sterk gehou, vertel sy. "'n Mens moenie gaan sit nie; dan gaan jy dood. En jy moet van alles eet. Nie enigiets uitskakel nie. My gunsteling­kos is rys, vleis en aartappels."

 ?? Foto: Alida de Beer ?? Tannie Beattie Hicks en haar dogter, Antoinette Holtzhause­n. “Ek voel nie oud nie. Ek het nêrens ‘n pyntjie nie,” sê Tannie Beattie.
Foto: Alida de Beer Tannie Beattie Hicks en haar dogter, Antoinette Holtzhause­n. “Ek voel nie oud nie. Ek het nêrens ‘n pyntjie nie,” sê Tannie Beattie.
 ?? ?? Tannie Beattie as jong meisie.
Tannie Beattie as jong meisie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa