Pasa spring weg met reeks oor dwelm- en alkoholmisbruik
People Against Substance Abuse (Pasa) het vandeesmaand begin met 'n veldtog waartydens hulle teen 14 Maart, 20 skole wil besoek as deel van die organisasie se pogings om dwelm- en alkoholmisbruik by die jeug te voorkom.
Volgens Wayne Windvoël van Pasa is hierdie voorkomingsprogram gefokus op gr. 7-leerders, wat op 'n baie beïnvloedbare stadium is vir groepsdruk.
"Ons besoek jaarliks 'n klomp skole wanneer ons met 'n spesifieke groep leerders gesels oor sleutelkwessies en ons hoop om hulle so meer weerbaar te maak en te help om die regte besluite te neem wat hulle toekoms positief sal raak," sê Windvoël.
Die praatjies van tussen 40 minute en 'n uur fokus op onderwerpe soos selfbeeld, verveeldheid, rebelsheid, groepsdruk, die realiteit van 'n mens se omstandighede en hoe die samelewing jou lewensuitkyk kan beïnvloed, asook vaderloosheid wat 'n massiewe probleem in ons gemeenskap is waar soveel huise gebroke is.
"Ons praat met die kinders oor hoe hierdie sake 'n mens se besluite beïnvloed en hoe jou besluite uiteindelik jou lewe bepaal," sê Windvoël.
Die praatjies is gratis, maar Pasa kan dit opvolg met 'n meer in diepte program, Bound, wat slegs by belangstellende skole aangebied word. Dit vind oor drie dae plaas en 'n donateur is nodig om dit te borg.
Boekie vir ouers
'n Inligtingsboekie vir ouers word ook aan die skoolhoofde oorhandig wat hulle onder ouers kan versprei. Dit kos slegs R12 en bevat waardevolle inligting oor dwelm- en alkoholmisbruik, asook hoe ouers die gevaartekens kan raaksien.
"Die meeste ouers is heeltemal oningelig. Dit was ook so met my ouers. Toe ek begin dwelms gebruik het, het hulle dit nie geweet nie. Dit was eers toe dinge uitmekaar begin val het, dat hulle besef het wat aangaan," vertel Windvoël, wat vir jare in die greep van dwelms geleef het.
Hulp vir afhanklikheid
Mense wat hulp soek vir familielede wat verslaaf is of wat met middelafhanklikheid sukkel, kan met Pasa in verbinding tree. Hulle verwys mense na 'n bekostigbare rehabilitasiesentrum en help met die vervoer daarheen. Stuur 'n WhatsApp-boodskap na 068 487 4848 om 'n afspraak te maak.
Persone wat meer inligting oor Pasa verlang, kan Wayne Windvoël bel by
071 469 9353 of stuur 'n e-pos na wayne@ pasacaw.co.za.