George Herald

Die Tolhuis weer oop

- Eugene Gunning

Die historiese tolhuis in die Montagupas is weer oop. Dit was tot onlangs tydelik gesluit vir opknapping­swerk.

Die tolhuis is een van die mees historiese geboue in die gebied en meer as 170 jaar oud.

Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis, het Maandag 15 April bevestig dat die tolhuis sedert die naweek weer oop is. Dit is op Woensdae, Vrydae, Saterdae en Sondae oop. Die tolhuis is ook oop in skoolvakan­sies en op openbare vakansieda­e en kan ook enige tyd op afspraak besoek word. Besoekers kan koffie en pannekoek geniet deur 'n donasie te maak.

Stols het gesê daar word ook voortgegaa­n om die Camino-stappers daar op Woensdae, Vrydae en naweke te ontvang.

Mense wat bereid is om op naweke te help kan haar gerus kontak by 083 772 8252.

'n Klein honorarium word betaal.

Volgens haar gaan dit besonder goed by die tolhuis. Die afgelope naweek was daar reeds verskeie besoekers. "Ek is verstom in die groot belangstel­ling."

Ofskoon die Montagupas tydelik gesluit is, is die pad tot by die tolhuis rybaar. Lees elders in die uitgawe 'n artikel oor die skade aan die Montagupas gedurende die onlangse swaar reën.

Sy het gesê dis belangrik dat die tolhuis oop bly want dit is van onskatbare kultuurhis­toriese waarde.

Verskeie geleenthed­e word by die tolhuis beplan. Op 24 September, Erfenisdag, sal daar weer 'n geleenthei­d plaasvind en op 28 Oktober vind daar 'n konsert plaas.

Daar is ook planne om 'n glansperso­onlikheid op Vrouedag in Augustus daar te laat optree. Stols het kunstenaar­s genooi wat wil help met fondsinsam­elingsgele­enthede om na vore te kom.

 ?? Foto: Eugene Gunning ?? Die ou tolhuis in die Montagupas.
Foto: Eugene Gunning Die ou tolhuis in die Montagupas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa