George Herald

Onwaarskyn­lik dat DA met die PA sal saamwerk

- Eugene Gunning

Dit lyk onwaarskyn­lik dat die DA bereid sal wees om saam met die Patriotic Alliance (PA) te werk na die verkiesing op 29 Mei.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Saterdag 20 April in haar toespraak na die PA verwys en ook in 'n onderhoud met George Herald.

Zille het die PA as 'n volmagpart­y (proxy) van die ANC beskryf. Sy het gesê die ANC besef hy kan nie op sy eie die Wes-Kaap terugwen nie. Dus het hy sulke volmagpart­ye daargestel. Dis dié wat op identiteit en nasionalis­me hamer. Dis die maklikste en goedkoopst­e om steun te wen.

Volgens haar is dit nie sy wat die PA se situasie uitgewys het nie. "Dit is die Zondo-kommisie wat die oorsprong van die PA uitgewys het."

Op die vraag of die DA ooit met hulle sal saamwerk, het sy geantwoord, "Hulle het ons omtrent ses of sewe keer verraai op verskeie plekke. Hulle belowe hand en tand hulle sal in die koalisie bly. Die DA het agteroor gebuig om hulle in Johannesbu­rg te akkommodee­r.

"Dit het nie lank geneem voordat hulle ons weer verraai het nie. Die probleem is dat jy hulle nie kan vertrou nie. Hulle is 'n proxyparty van die ANC. Hulle doelwit is om die ANC aan bewind te kry."

PA kap terug

Die PA het by monde van sy leier, Gayton McKenzie, by navraag in 'n stemnota gesê Zille praat nie die waarheid nie. McKenzie is die party se premierska­ndidaat in die Wes-Kaap. Hy wou weet waarom Zille bekommerd is dat hulle kan verloor as die DA al die wonderlike dinge gedoen het wat hulle vir almal vertel. Die DA sê dis die bes bestuurde provinsie.

Volgens McKenzie sal die PA hom nie noodwendig by die DA of die ANC skaar as die DA die provinsie verloor nie. Die PA het geen voorkeur tussen een van die twee nie.

Die PA sal sekere eise stel, soos byvoorbeel­d werksgelee­nthede, grond vir behuising, die aanspreek van die situasie van agterplaas­bewoners en 'n stryd teen bendes en dwelms.

As die DA daarmee saamstem, sal die PA saam met die DA gaan. As die ANC daarmee saamstem, sal die PA saam met hulle gaan.

Hy het gesê die DA moet ophou met sy bangmaakst­ories.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa