Tonkin Clacey Ingelyf nou ook op Mosselbaai
Jaco Lötter, hoof van die Mosselbaai-kantoor van Tonkin Clacey Prokureurs, het 27 jaar ondervinding in eiendomsreg met ‘n sterk fokus op die oprigting van nuwe eiendomsontwikkelings, kommersiële ooreenkomste, aktes en notariële dienste.
Vir 'n Pretorianer met 'n lang verbintenis met die Mosselbaai-omgewing, ouers wat reeds dertig jaar hier woon en met ‘n paar plaaslike eiendomme, was dit 'n uitgemaakte saak dat hy sy passie na Mosselbaai moes bring.
Jaco Lötter, hoof van die Mosselbaaikantoor van Tonkin Clacey Prokureurs, het 27 jaar ondervinding in eiendomsreg met 'n sterk fokus op die oprigting van nuwe eiendomsontwikkelings, kommersiële ooreenkomste, aktes en notariële dienste. Hy spesialiseer in residensiële- en kommersiële eiendomsontwikkeling asook kommersiële eiendomsfinansiering en alternatiewe dispuutbeslegting.
Tot en met sy verhuising na Mosselbaai in Maart 2024 was Lötter die senior direkteur van Tonkin Clacey, ‘n spesialiseiendomsregfirma gestig in 1988 en gebaseer in Johannesburg, Gauteng.
Met die firma se doel om voort te bou op hulle reputasie as 'n spesialiseiendomsregfirma, is besluit om die firma se voetspoor na die Tuinroete te verbreed deur 'n tak op Mosselbaai te open.
Groei op elke vlak
Na sy toelating as prokureur in 1995, het Lötter by Tonkin Clacey aangesluit en is hy in 1996 as 'n aktevervaardiger en notaris toegelaat.
Hy het sy beroepsvaardighede van voetsoolvlak verwerf en gegroei deur die jare op elke vlak van die firma tot sy voormalige posisie as senior direkteur.
Hy het die grade BLC en LLB verwerf aan die Universiteit van Pretoria en 'n diploma in bedryfsbestuur van Damelin-bestuurskool, met 'n merietetoekenning as topstudent.
Lötter dien ook op verskeie besturende liggame as trustee, direkteur en voorsitter. Hy is 'n genoot van die Vereniging van Arbiters en 'n opgeleide bemiddelaar van die Genootskap van Bemiddelaars, Londen, deur die Vereniging van Arbiters.
Gespesialiseerde dienste
Tonkin Clacey bied gespesialiseerde dienste op die gebied van eiendomstransaksies, eiendomsontwikkeling en eiendoms- en korporatiewe finansiering.
Die firma se gesofistikeerde infrastruktuur maak die vaardighede van ‘n diverse professionele span, gerugsteun deur ‘n ervare en gemotiveerde ondersteuningspan, nou beskikbaar vir kliënte in die Tuinroete.
Die firma het 'n sterk netwerk van verhoudings met banke, plaaslike owerhede, akteskantore en die SuidAfrikaanse Inkomstediens, wat noodsaaklik is vir die bespoedigde finalisering van transaksies.
Lötter glo dat die firma groot genoeg is om die ondersteuning te bied wat nodig is vir groot transaksies, maar klein genoeg is om die firma en hulle kliënte in staat te stel om te baat by die persoonlike omgang met individue eerder as 'n onpersoonlike korporasie.
Gesin
Lötter balanseer sy professionele lewe met sy gesin, sy vrou, Deidré, en twee seuns, Frans en Jacques. Daarby het hy 'n passie vir berge, bergfietsry, vliegvisvang, avontuurmotorfietse, natuurfotografie en af en toe ‘n musikale optrede saam met vriende.
Hy glo vas dat daar geen plaasvervanger is vir persoonlike kontak met kliënte nie en nooi voornemende kliënte om 'n draai te maak by hul kantore in Marshstraat, Mosselbaai en 'n koppie koffie te kom geniet.