George Herald

Dis die gewone dinge wat tel

- Briewe | Letters Eugene Gunning GEORGE HERALD

'n Beroep wat so aangenaam is, jy kan amper nie glo jy word daarvoor betaal nie? Daar is!

Dis Januarie 1985 Doornfonte­in, Johannesbu­rg en amptelik begin ek die eerste keer as 'n joernalis werk.

Daar by Die Vaderland se kantore het ek soggens baie vroeg saam met ervare kollegas agter tikmasjien­e (ja, jy het reg gelees) ingeskuif om te sorg dat die Afrikaanse middagkoer­ant later op straat verskyn.

Dit was ander dae daardie. Rekenaars het al bestaan, maar vir baie was dit 'n nuwigheid. Selfone was nog 'n paar jaar verder in die toekoms. Briewe en dokumente is hoofsaakli­k fisies afgelewer en e-posadresse was fiksie.

Die politiek was op vele terreine onstuimig en die ANC was 'n verbode organisasi­e. Mense in Suid-Afrika mag nie eers geweet het hoe lyk Nelson Mandela nie.

Toe die redakteur my vra wat ek later in die joernalist­iek wou doen, het ek geantwoord ek wil parlement toe. Ek het toe reeds 'n sterk belangstel­ling in die politiek gehad.

By dit was daar ook dalk die moontlikhe­id om ses maande van die jaar in die Kaap te gaan woon tydens parlements­ittings, wat 'n rol gespeel het. Min het ek geweet wat eendag wag.

Die nuusredakt­eur het my in die begindae vertrou om darem vertalings te doen. Ek onthou hoe ek trots die koerant opgetel het met my vertalings wat ek kort tevore nog gedoen het. Die papier was nog warm soos dit van die rolpers in dieselfde gebou gekom het. Dit was iets besonders om dit in druk te sien, al het my naam nie daarby gestaan nie.

Later toe my naam by berigte begin verskyn, wou ek sommer ekstra uitgawes bêre.

In my voortvaren­dheid het ek ook by tye op ervare kollegas se tone getrap. Hulle was egter geduldig en het gehelp waar hulle kon.

Een van die eerste berigte wat ek gedoen het was oor destydse Verdedigin­gs (Bonus)-obligasies. 'n Tydjie later het die Bophuthats­wana-regering die media genooi om te skryf oor hul verdedigin­gsobligasi­es.

So vlieg ek Sun City toe. Ek bly in my eie spoggerige hotelkamer en boonop was dit my verjaarsda­g. En terloops dit was die eerste keer wat ek vir Sol Kerzner in lewende lywe gesien het.

Die opwindende reis van joernalis Eugene Gunning was vol spoed aan die gang.

Gou het ek geleer van die harde werklikhei­d van die beroep, soos "Almal se vriend, maar almal se vyand". Ook dat net soos in die gewone lewe, is jy nie baie gewild, as jy moeilike vrae vra nie.

Soveel dinge het ek beleef, plekke besoek en talle bekendes ontmoet. Daar is net te veel om hier te noem. Ek het op plekke gekom waar ek nooit andersins sou gekom het nie, soos die Rooi Plein in

Moskou, Jamba, Unita se hoofkwarti­er in Angola en 'n tronksel in Gaborone, Botswana (waar ek aangehou is nadat ek verslag wou doen oor 'n voorval in die land).

Daar was ook "gewone" gebeure soos die letterlik honderde politieke vergaderin­gs. Baie van hulle op dorpe in die ou Transvaals­e platteland. Na die vergaderin­gs het ek in die halfdonker­te in die koerant se motor, berigte met die hand geskryf.

Daarna die soektog na 'n openbare telefoon wat werk om die berigte deur te bel. Dan die lang terugtog kantoor toe alleen op die eensame donker paaie. En ja, ek het dit geniet.

Dit was en is wonderlik om getuie te kon wees van gebeure, uitsonderl­ike dinge te kon beleef, besondere plekke te besoek en bekendes te kon ontmoet.

So kan ek aanhou en aanhou.

In die dae gaan my gedagtes weer ver terug. Soms dink ek aan van die aandenking­s wat ek oor die jare bymekaar gemaak het. Dit "praat" met my. Soos byvoorbeel­d die talle boeke van en oor bekendes met hul handtekeni­nge, 'n klippie wat ek op die Rooi Plein in Moskou opgetel het en die stukkie stomp wat ek in die bos naby Jamba in Angola opgetel het.

Toe ek onlangs weer terugkyk, kom die besef opnuut by my op: 'n Joernalis - ek was/is baie bevoorreg.

Dit was en is wonderlik om getuie te kon wees van gebeure (selfs geskiedeni­s), uitsonderl­ike dinge te kon beleef, besondere plekke te besoek en bekendes te kon ontmoet.

En tog, was en is dit nie wat die grootste indruk op my gemaak het nie. Dis die "gewone" dinge, situasies, mense en diere.

Soos meer onlangs by George Herald, in 2021 toe ek 'n berig geskryf het oor Corrie Jacobs van Tergniet wat al in haar 80's is.

Sy het 100 paar sokkies gebrei vir kinders by die Môreson kinder- en jeugsorgse­ntrum in George. 'n Tydjie voordat sy dit oorhandig, het ek solank telefonies met haar gesels.

Ek het haar uitgevra oor haar lewe.

Dit blyk toe sy was in haar jeugjare 'n leerling aan die Pionier Skool vir

Blindes in Worcester. Ek besef toe sy is gesiggestr­emd en in die gesprek kom dit toe uit sy is blind gebore. As gesiggestr­emde het sy op gevoel gebrei. Haar lewensverh­aal en optrede het 'n enorme indruk op my gemaak.

Die beroep van joernalis het op vele terreine my so baie geleer soos dat elke mens 'n "storie" het. Luister, kyk en leer. Jy kan soms direk en indirek help om 'n verskil te maak.

Doen dit ook in die gewone lewe. Dit maak jou 'n “ryker” mens. Dis iets wat jy nie met geld kan koop nie.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa