Pragboek uit pen van plaaslike inwoner
GRAAFF-REINET — Helen du
Toit, ‘n afgetrede polisiebeampte wat jare lank bekend was onder inwoners vir haar werk by die plaaslike polisiediens, het onlangs haar eerste boek, ‘Nagmoord’, tydens ‘n spoggeleentheid in Graaff-reinet bekendgestel.
Die funksie, wat deur Du Toit se vriende en familie bygewoon is, is die pas afgelope Vrydagaand, 27 Oktober, by die Jan Rupert-kunssentrum in Middelstraat gehou.
Volgens Du Toit, is skryf ‘n passie waaraan sy al van kindsbeen af werk.
‘Nagmoord’ - ‘n fiktiewe verhaal wat in Nieu-bethesda afspeel - is ‘n boek wat oor ‘n geweldsmisdaad en die oplos van die saak gaan, net soos daar verwag sal word van ‘n boek uit die pen van ‘n oud-polisiebeampte. ‘n Jong, getraumatiseerde vrou met ‘n tragiese verlede is daarop uit om self uit te vind wie die vallei se moordenaar is maar haar snuffelneus laat haar in gevaarlike oomblikke beland...
Du Toit, wat die boek onder die skrywersnaam ‘Helena Elsken’ vrygestel het, werk reeds sedert 2014 aan die boek en was dit voorwaar ‘n liefdestaak om die verhaal tot voltooïng te bring.
Diegene wat meer inligting hieroor wil bekom, kan die skrywer kontak by helenmdutoit13@ gmail.com Helen du Toit, ‘n inwoner van Graaff-reinet, het Vrydagaand haar eerste boek bekend gestel.