Morsjorse skinder oor hulself
Dit is reeds ’n geruime tyd dat daar op sosiale media gemor word oor die vullis wat Graaff-reinet se woonbuurte vol lê. Met reg. Dit is die laaste ruk so.
Dit was veral oor Desember vir my 'n gruwelike affêre om deur die dorp se strate te ry wat besaai was met kitskospakkies, koeldrankblikkies, en wie weet wat nog.
Diegene wat my redakteursbrief verlede week gelees het, sal onthou dat dit een van my nuwejaarsvoorneme vir 2019 was om meer aktief te wees.
Getrou aan dié voorneme is ek gister te voet na een van my afsprake toe.
Ek stap toe verby een van die kruidenierswinkels in die dorp - die parkeerarea is volgepak.
Na my afspraak, op pad terug na die kantoor, loop ek toe weer verby die ene parkeerarea. Heelwat voertuie het toe al vertrek, maar my oog vang toe een van die winkel se kliënte net soos hy wegtrek.
Die spasie waar sy voertuig gestaan het lê besaai met vullis.
'n Plastieksak, 'n kitskoshouer en ander gemors is netjies onder die voertuig ingegooi net voordat hy - tevrede met die lewe - vertrek het... iemand anders sal dit mos skoonmaak. Hoofsaak is dat hy nie die moeite hoef te doen om die gemors by sy eie huis weg te gooi nie.
Dit het my nou ’n bietjie laat dink... Gesien al die pakkies wat in die kattebak gelaai is en die voertuig wat hy ry, verdien die vent duidelik 'n redelike salaris, wat beteken dat hy seker 'n werk iewers het en 'n inkomste verdien waarmee hy sy motorpaaiement, petrol en kitskos betaal?
Die man het duidelik 'n hele paar goed in plek. Dis net jammer hy het nie kultuur, verantwoordelikheid, basiese opvoeding, netheid, medemenslikheid, respek, omgee en waardes nie.
Wie sy vullis by die venster uitgooi skinder oor homself...