Graaff-Reinet Advertiser

Papegaaie, paparazzi: taal is poenankies

-

Ek woon al byna ses maande in die Karoo (dis nou 'n sin wat dié Gautenger nooit gedink het sy gaan sê nie), en kom ek erken nou sommer ruiterlik: I am a changed woman.

Ek het die ergste winter van my lewe oorleef, wéét van water spaar, en spinnekopp­e kan maar kom, Karoo-mense skrik vir niks.

Daar is wel aspekte van GraaffRein­et waaraan ek nog gewoond moet raak, soos die man wat geld van die kitsbank onttrek met 'n yslike blou-en-geel ara op sy skouer; miskien 'n sekuriteit­svoël na ons string rooftogte? Ek wil eers 'n foto neem, maar is bang dié papegaai is paparazzi-sku. Buitendien, netnou sê mense ek is niks gewoond nie.

Toe bel ek maar vir Ma, sy is altyd gretig om van Karoo-kaskenades te hoor. Sy lag: "Toe jy klein was het jy gedink daar's 'n pappegaai, 'n mammagaai, en jy's 'n

Polliegaai." Ek sê toe dat ek duidelik al van kindsbeen taal-oplettend is.

Of was ek? By elke familie affêre moet ek hoor hoe ek gedink het dat 'n bak van my ma deur twee broers, Oven en Microwave Safe, gemaak is.

Natuurlik was daar ook die keer toe ek opgewonde was om oor die radio te hoor dat daar aliens op 'n berg in Pretoria is. Néé, verduideli­k die grootmense toe, dis net uitheemse bome. My sussie het weer gedink dat die swartmark 'n spesiale sentrum spesifiek vir onwettige inkopies is, en ek sal eerder nie sê wat my oom gedink het die titel van Lipps Inc se Funkytown is nie.

Taal is heerlik. Dink aan lekkersê Afrikaanse woorde soos gogga, melkskomme­l en donderstor­m. Kriewelkou­s, skarminkel en "o gonna!", en moenie vergeet van ramkietjie, jammerlapp­ie en kiekie nie. Nuutskeppi­ngs is net so interessan­t: hommeltuig, poenankies en 'n woefkardoe­s. Nie seker wat dié woorde beteken nie? Gaan Googleloer dit maar.

My gunsteling Afrikaanse woord is bollemakie­sie; nie omdat ek dit kan doen nie (klaar probeer), maar omdat hy so lekker van die tong af rol. Wat is joune? Stuur 'n e-pos aan paula@groupedito­rs. co.za.

 ??  ?? Redakteurs­brief deur Paula-Ann Smit
Redakteurs­brief deur Paula-Ann Smit

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa