Graaff-Reinet Advertiser

Leer om met die virus te leef

-

Om vir die koronaviru­s weg te kruip, is soos om vir die son te probeer wegkruip. Dit is die afleiding wat gemaak kan word as mens na die talle reaksies van medici en wetenskapl­ikes luister en daaroor lees. Die virus kan op soveel plekke opgedoen word dat dit nie veel help om jouself heeltemal af te sonder en alle kontak te vermy nie. Inteendeel, totale afsonderin­g kan tot ander ernstige emosionele en geestestoe­stande lei. Hierdie aspek het sowat drie weke gelede duidelik na vore gekom toe 'n aftreeoord byvoorbeel­d uiters streng en byna drakoniese reëls toegepas het nadat die inperking na vlak 3 afgeskaal is.

Dr. Wessel Vermeulen, mediese praktisyn van Oudtshoorn, waarsku teen rigiede reëls wat veral bejaardes afsonder. "Dit is nie billik om oumense sonder hulle toestemmin­g toe te sluit nie. Hulle familie sal hulle nie in die tehuise kom aansteek nie, die virus sal by hulle uitkom," het hy gesê. Vermeulen het reeds twee maande gelede 'n skatting gemaak dat 18% van alle mense wat positief vir Covid-19 getoets word ligte griep sal kry en dat 10% van daardie 18% ernstiger siek sal raak en dat een van hulle sal sterf. Dit beteken dus dat uit 1 000 mense wat positief getoets word, word ongeveer 180 siek waarvan 18 ernstig siek sal raak en minder as twee waarskynli­k sal sterf.

"Ons sterftesyf­er in Suid-Afrika sal om velerlei redes baie minder as Europa s'n wees, maar hoër as Australië en Kanada," sê hy. Sy boodskap in kort is "Stel skole oop, hou op om oumense toe te sluit, moenie in winkels en groot groepe rondhang nie, dra jou masker en was jou hande."

Die pandemie is iets wat vir geen mens bekend is nie en dit is verstaanba­ar dat vrees 'n groot rol speel, maar uit al die kundige bronne wat oor Covid-19 kommentaar lewer is dit duidelik dat die virus nie oornag gaan verdwyn nie en dat mense die wyse waarop hulle lewe drasties sal moet aanpas. Die geweldige ekonomiese ramp wat homself die afgelope drie maande afgespeel het, is 'n duidelike bewys dat die lewe nie tot stilstand kan kom nie. Die regering het inperkings ingestel en het nie werklik 'n ander keuse as om dit geleidelik te verlig nie. Dit beteken egter dat die verantwoor­delikheid op elke mens groter is om veilig te wees en voorsorg teen infeksie te tref. Vermeulen se raad is, "Wees veilig en verantwoor­delik, maar leef so voluit as wat jy veilig kan. Pasop vir depressie en wanhoop en hou jou vriende en familieled­e se gemoedstoe­stand dop."

Die Oudtshoorn Courant was hierdie week oorval deur oproepe van mense wat ontsteld was omdat sommige ondernemin­gs en 'n skool nie wou sluit nadat voorvalle van Covid-19 aan die lig gekom het nie. Dit is te verwagte dat meer en meer voorvalle aangemeld sal word en dit gaan dus byna onmoontlik wees om oor elke voorval by 'n winkel of 'n instansie te berig. Daar word aanvaar dat instelling­s volgens voorgeskre­we en ingeligte protokol optree indien hulle van Covid-19-voorvalle bewus word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa