Graaff-Reinet Advertiser

Man vermoor sy broer

-

'n Man van Zoar is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof 15 jaar gevangenis­straf opgelê nadat hy aan moord op sy broer skuldig bevind is.

Isaac Jantjies (44) het sy broer, Juwayne Visagie (17), verskeie kere met 'n mes gesteek, maar volgehou dat hy hom net een steekhou toegedien het.

Visagie is na verskeie operasies, vier weke na die voorval, oorlede.

Die staatsaank­laer, Nadia Arnolds, het die hof vir die minimum vonnis van 15 jaar gevra omdat geen wesenlike en dwingende omstandigh­ede bestaan om daarvan af te wyk nie. Jantjies toon ook geen berou nie.

Daar was duidelik nie ‘n goeie verhouding tussen die twee broers nie omdat die oorledene saam met sy pa gewoon het en die moord uit jaloesie gepleeg is.

Jantjies het volgehou dat hy sy broer een keer gesteek het, maar volgens dr. Mariaan Winterbach, wat die lykskouing gedoen het, is hy verskeie kere gesteek.

Streekland­dros Daniël Boks het met vonnisople­gging gesê Jantjies het roekeloos opgetree en dat die getuienis voor die hof nie afwyking van die voorgeskre­we vonnis regverdig nie.

Die oorledene kon volgens sy pa, Johannes Visagie, drie tale vlot praat en kan hy nie sy kind se dood verwerk nie.

Volgens Visagie was Juwayne ‘n sagmoedige, respekvoll­e kind met goeie maniere wat ook as tolk by die skool opgetree het.

Die beskuldigd­e is óók sy seun vir wie hy óók lief is, maar hy moet gestraf word vir wat hy gedoen het.

Die landdros het sy kommer uitgespree­k oor die vlaag van geweldsmis­dade en verkragtin­gs in klein dorpies soos Ladismith en Zoar.

“Die gemeenskap roep luidkeels vir swaarder vonnisse en die hof sal sy plig versuim indien hy ligter strawwe oplê wat nie die regte boodskap uitdra nie.”

Jantjies het agt vorige veroordeli­ngs op sy rekord.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa