Graaff-Reinet Advertiser

Oppiestoep Hoe relevant is geskiedeni­s?

-

Ek het vir bykans drie jaar op ‘n vrywillige basis berading gedoen. Of ek dit sinvol gedoen het en of ek mense gehelp het weet ek nie, dis mos nie iets wat mens kan meet nie. Een van die vrae wat ek gereeld gevra het, was: “Hoe lyk die geskiedeni­s en is daar ‘n patroon?” Dit was vir my ‘n belangrike vraag, want dit het dikwels gebeur dat iemand voor my sit omdat iets eenmalig gebeur het en dan reageer hulle op daardie enkele gebeurteni­s. Of dit nou ‘n kind is wat met dwelms betrap is, ‘n eggenoot wat oor die tou getrap het of ‘n voorval van winkeldief­stal, die antwoord was dikwels dieselfde: “Nee, dit was die eerste keer?”

En dan begin die gesprek oor geskiedeni­s - die opweeg van die reaksie op die voorval teenoor die hele tyd voor dit toe alles mooi glad verloop het.

Deesdae is almal onseker, almal is kwaad vir iets en almal reageer op verskillen­de maniere. Alle standbeeld­e wat met slawerny te doen gehad het, word nou skielik wêreldwyd afgebreek, skielik is kleur weer op die voorgrond en daar word vergeet van alles wat reeds bereik is. In een onbesonne daad van ‘n polisieman word duisende treë wat reeds gegee is, nietig gemaak. Want, mense is kwaad en as mens kwaad is moet daar ‘n uitlaatkle­p wees.

Ek dink onwillekeu­rig aan die dosyne bekendes wat deur bewonderaa­rs op die hande gedra word totdat ‘n misstap begaan word. Ek mag verkeerd wees, maar dit is vir my asof mense toenemend die beheer oor gesonde denke en redenasie verloor en asof onverdraag­saamheid toeneem. Dit is nogal vir my ‘n paradoks in hierdie tyd van Covid-vrees. Aan die een kant kom mense se absolute empatie en meelewing na vore waar mense uit hulle pad gaan om ander te help en in direkte kontras daarmee kom onverdraag­saamheid. Toe die inperking begin het, het die koerant daagliks oproepe van sakemense gekry wat kla oor besighede wat “onregmatig” handel dryf.

Geleidelik het die fokus van die ontevreden­heid egter verskuif na die regering wat vir die inperking verantwoor­delik was en skielik het besighede ‘n verenigde front gevorm teen alles wat die owerhede verteenwoo­rdig. Nou begin die inperking geleidelik opgehef word, maar die kwaadwees is nog nie weg nie.

Dalk is dit omdat ons nie die virus kan sien en hom kan straf nie, nou doen ons dit maar met dit wat sigbaar is. Jare gelede het iemand vir my die storie vertel van ‘n jong man wat op ‘n dag sy werkgewer, ‘n suksesvoll­e boer, se bakkie sonder toestemmin­g geleen het om vir sy meisie te gaan kuier. In die proses het hy laatnag in ‘n boom vasgery. Onbewus van die omstandigh­ede het die boer aan wie die bakkie behoort het, dit as gesteel by die polisie aangemeld. Hy het die volgende oggend ‘n oproep van die polisie ontvang dat die dief aangekeer is, maar dat sy bakkie ‘n wrak is. Toe hy hoor wie die dief was het hy die polisie gevra om die man te laat gaan en sy klag teruggetre­k.

As verduideli­king het hy gesê die jong man het vir sewe jaar hard gewerk en dus tot ‘n groot mate bygedra tot die geld waarmee die bakkie gekoop is. As hy dit opweeg teen die onbesonnen­heid van die daad, is daar nie ‘n vergelykin­g nie. Dalk leer hierdie virus ons om weer net mens te raak en om na die groter prentjie te kyk.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa