Graaff-Reinet Advertiser

Dorp verloor doyenne

-

Die bekende Ann Mabel May le Roux, eggenote van Swepie le Roux, is op 26 Augustus in die ouderdom van 84 oorlede. Sy is in 1936 op Piet Retief gebore en was 'n kleindogte­r van die Boeregener­aal Jan Kemp. Sy het na haar studies op Stellenbos­ch op Oudtshoorn en De Rust as Engelse onderwyser­es skool gegee en is met Swepie le Roux van Domein Doornkraal getroud. Hulle huwelik is geseën met sewe kinders - ses dogters en 'n seun, en sewe kleinkinde­rs. Hulle oudste dogter, Julia, is die speaker van die munisipale raad op Oudtshoorn en Celia, die middelste dogter, boer tans op Doornkraal. Vier van die kinders woon oorsee.

Ann was wyd belese en berese. Sy was ook 'n legendarie­se kok en gasvrou. Sy en Swepie het mense vanoor die wêreld op Doornkraal onthaal en mense verstom met hul gasvryheid.

Só onthou Peter Veldsman, befaamde restaurate­ur en kosskrywer en self 'n kind van die Klein-Karoo, haar: "Aan Ann se tafel het ons tot nuwe insigte gekom. Sy was doyenne van Doornkraal en 'n grande dame van die Klein-Karoo.

Ann was 'n uitsonderl­ike persoon, beskaafd, kreatief, verfynd, ’n regstaner, tuisteskep­per, vindingryk­e boervrou, meelewende wese, warm in haar verbinteni­sse. Sy was in alle opsigte ‘n mooi mens."

"Sy was belese en sensitief. Sonder haar kennisskap sou ons lewens veel armer wees. Haar gedagtes rondom haar gasvryheid sal tot my eie dood deel vorm van my verwysings­raamwerk. Saamgereke­n of apart: haar individuel­e waardes het tot 'n onskatbare eindtotaal gekom."

Ann se afsterwe laat 'n groot leemte, maar sy laat die KleinKaroo verryk agter.

Die Domein Doornkraal padstal wat 'n bekende baken op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust is, was Dinsdag gesluit. Hulle het die volgende boodskap op hulle Facebookbl­ad geplaas:

"Die Padstal sal gesluit wees terwyl ons afskeid neem van Ann le Roux, Domein Doornkraal se legendarie­se doyenne. Sy leef voort in die glans van groenvye, die parfuum van kwepers en die blos van klapperbos. Skink saam met ons 'n glasie wyn ter ere van ons geliefde beskermvro­u se ryke erfenis." -Francois Smuts

 ??  ?? Die bekende Ann Mabel May le Roux wat op 26 Augustus oorlede is.
Die bekende Ann Mabel May le Roux wat op 26 Augustus oorlede is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa