Graaff-Reinet Advertiser

Polisielid sterf aan Covid-19

- LIEZL VAN NIEKERK

Montaque Ricardo Gordon (44), 'n adjudant-offisier verbonde aan die Calitzdorp-polisie, is verlede Vrydag aan Covid-19 oorlede.

Volgens sy oudste broer, kapt. Geoffrey Gordon, het Montaque verkoue gehad.

Toe dit nie beter word nie is hy dokter toe en is met Covid-19 gediagnose­er.

"Hy was baie siek. Vir ons as familie is sy dood regtig moeilik. Mense vat nie die pandemie ernstig op nie.

Hulle kuier en loop sonder maskers rond en hulle besef nie hoe gevaarlik die siekte is nie. Mense gee nie om hoe dit hulle gaan affekteer nie, maar hulle moet begin dink hoe dit mense rondom hulle affekteer."

Geoffrey vertel dat Montaque in die MediClinic Klein-Karoo opgeneem is en hy dadelik op 'n drip en suurstof gesit is.

"Hy het toe ook uitgevind dat hy 'n diabeet is, hy het dit nooit geweet nie. Hy is verlede Dinsdag na MediClinic George oorgeplaas en Woensdagog­gend aan 'n ventilator gekoppel en is Vrydag oorlede."

Volgens Geoffrey was sy broer 'n mensemens. "Hy het omgegee vir ander en was elke dag dieselfde. Hy het 'n groot vriendekri­ng gehad en was baie geliefd onder die gemeenskap en sy kollegas oor sy mooi persoonlik­heid." Montaque het in 2000 as konstabel op Calitzdorp begin werk. In 2007 is hy bevorder na sersant en 2019 het hy sy bevorderin­g as adjudant-offisier gekry. "Hy was vreeslik trots daarop. Hy was die jaar 20 jaar en 305 dae in die polisie." Geoffrey sê hy en sy broer het 'n baie nou band gehad.

"Ons is vier broers en 'n suster. Hy het gereeld deur die week deurgery na Mosselbaai om by my te kom kuier en dieselfde aand weer teruggery. Montaque was Marcellino van die Metro-ambulansdi­enste op Oudtshoorn se tweeling broer."

'n Spesiale deurry word vandag (Donderdag) te Proteastra­at 29 op Oudtshoorn vir hom gehou. Diegene wat vir hom lief was kan tussen 14:00 en 19:00 by die huis verbyry en blomme by die hek neersit.

'n Gedenkdien­s word Vrydag om 12:00 by sy ouerhuis in Volstruisw­eg gehou.

Al die dienste sal met Covid-19-regulasies gepaard gaan en mense word gevra om hul 1,5 meter afstand te hou en maskers te dra. Montaque word deur sy suster Alré, broers, Marcellino, Geoffrey en William, twee seuns en sy pa, William Snr. oorleef.

 ??  ?? Ao. Montaque Gordon
Ao. Montaque Gordon

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa