Graaff-Reinet Advertiser

Eienaar van veghond onder huisarres

- GARNETT WICOMB

‘n Man wat sy Amerikaans­e veghond aangehits het om 'n 15-jarige seun te byt, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en vir lank onder huisarres geplaas.

Howard du Plessis (44) se veghond het op 9 Februarie vanjaar vir Angelo Pikaan in Saturnusst­raat, Toekomsrus, voor sy bors en aan die hand gebyt voordat hy daarin geslaag het om weg te kom.

Die seun het getuig dat hy in die straat op ‘n klip gesit het toe die beskuldigd­e met sy hond by hom verbygesta­p en vir die hond gesê het ”Sa!”. Die hond het glo al voorheen ook drie familieled­e van Pikaan gebyt.

Du Plessis het die seun se weergawe ontken en aangevoer dat die hond losgeruk het toe hy met ‘n klip na die hond gegooi het.

Streekland­dros Daniel Boks het sy weergawe as vals verwerp en die seun as ‘n betroubare getuie beskryf.

Die staatsaank­laer, Nadia Arnolds, het die hof gevra vir ‘n korrektiew­e toesig vonnis en ’n vergoeding­sbevel vir die onkoste wat die seun se moeder moes aangaan.

Die hond kon volgens Arnolds die kind doodgebyt het.

"Daar is gereeld koerantber­igte van pit bulls wat kinders doodbyt en eienaars wat deur hul eie pit bulls aangeval word. Mense wat pit bulls aanhou moet groter sorg toepas," het sy gesê.

In die geval het die seun gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

Du Plessis se regshulppr­okureur, Cindy Murray-Smith, het ter versagting van vonnis die hof versoek om af te wyk van die voorgeskre­we vonnis van 10 jaar omdat daar wel omstandigh­ede bestaan om dit te doen.

Streekland­dros Daniel Boks het met vonnisople­gging gesê die beskuldigd­e moes geweet het dat ‘n veghond ‘n gevaarlike hond is.

"Wanneer jy ‘n hond aanhou moet dit wees omdat jy lief is vir honde en nie om ander mense seer te maak nie."

Die landdros het egter bevind dat ‘n vonnis van tien jaar skokkend sal wees en hy nie van die beskuldigd­e ‘n voorbeeld wil maak nie. Hy is gevonnis tot ses jaar gevangenis­straf wat in geheel voorwaarde­lik vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiew­e toesig wat behels 24 uur per dag onder huisarres vir die volle tydperk.

Verder is ‘n vergoeding­sbevel gelas wat bepaal dat hy ’n bedrag van R1 000 aan die moeder van die seun te betaal vir mediese en ander uitgawes wat sy moes aangaan. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Mense wat aanhou moet groter sorg toepas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa