Graaff-Reinet Advertiser

Ysige koue tref Noord-Kaap

- TERESA OPPERMAN

Ysige koue weer het die afgelope week met mag en mening toegeslaan oor die hoërliggen­de gedeeltes van die NoordoosKa­ap.

“Ons het ‘n minimum temperatuu­r van minus 8 grade aangeteken Dinsdagogg­end,” vertel Renel Vermaak van die plaas Rietfontei­n aan die voet van die Bamboesber­ge. Hul plaas val in die Hofmeyrdis­trik, langs die Vlekpoortr­ivier.

“Na jare in hierdie deel van die wêreld weet ons dat ysige koue weer gewoonlik in Julie aan die orde van die dag is,” deel ‘n ander buurvrou op sosiale media mee.

“Die driffie op die R391, op roete na die R390 na Burgersdor­p, is as ‘n reël nie gevries nie. Maar Maandag en Dinsdag was dit ‘n soliede massa ys.”

Ook in Molteno, waar waterpype gebars en krane gevries was, is ysige koue aangemeld. En by die Marais Steyn-tehuis vir bejaardes in Steynsburg het agt waterpype gebars as gevolg van die uiterste koue wat water laat ys het. Daar moes dringend planne gemaak word om te sorg dat daar water vir badkamers en die kombuis is. Die tehuis is tans nog onder inperking en dit is net soveel moeiliker om hulp van buite te kry om behulpsaam te wees met herstelwer­k.

“By ons het selfs die honde se waterbakke solied gevries en ek kon die stuk ys die volgende oggend uitgooi,” vertel Ronell Herselman, van Tarkastad. “Gelukkig vries alles nie elke nag vas nie!”

Gewoonlik word hierdie ysige nagte gevolg deur matige sonskyndae, maar ongelukkig is die son se hitte nie lank genoeg warm om deur murg en been alle koue te verdryf nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa