Graaff-Reinet Advertiser

Saak teen ses vir uitspraak uitgestel

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - Die saak teen ses mans van Rose Valley, wat van poging tot moord aangekla word, is in die Oudtshoorn­streekhof vir uitspraak uitgestel na die getuienis van die laaste drie verdagtes en die slotargume­nte van die staat en die verdedigin­g.

Robert Plaatjies (36), Percival Lucas (26), Dawid Claassen (38), Elzane Plaatjies (33), Ronaldo Dreyer (25) en Justin Visagie (28) word daarvan aangekla dat hulle op 17 Desember 2019 die 27-jarige Tylor Britz met kapmesse aangeval het. Almal pleit onskuldig. Volgens Elzane Plaatjies ken hy net een van sy medebeskul­digdes en die ander glo “net van sien”.

Volgens hom was hy die betrokke dag by die werk op Rooiheuwel en nie op die toneel nie.

“Ek hoor dit maar hier in die hof,” het Plaatjies onder kruisverho­or deur die staatsaank­laer, Nadia Arnolds, getuig.

Sy het dit egter aan hom gestel dat dit nie strook met die getuienis van ‘n jong seun wat hom met ‘n skerp voorwerp sien hardloop het nie. Britz het getuig dat hy vir sy lewe gesmeek het toe Robert Plaatjies glo vir Lucas en Dreyer gesê het om hom dood te maak. Sy maag is met ‘n panga oopgekap.

Volgens Lucas het Britz hom geklap en met ‘n skêr probeer steek. Hy het sy arm vasgegryp en hulle het geval toe Dreyer glo vinnig op hulle afgestorm het.

Hy weet nie hoe Britz sy beserings opgedoen het nie. Claassen het ook getuig dat hy nie op die toneel was nie en nie weet waarvoor hy in hegtenis geneem is nie.

“Ek het getuies wat kan getuig dat ek heeldag by die huis was,” het Claassen getuig.

Die staatsaank­laer Nadia Arnolds, vra die hof vir die skuldigbev­inding van al ses verdagtes omdat hulle hul weergawes aanpas en nie die waarheid praat nie.

Wenzel Botha, wat in opdrag van die Regshulpra­ad vir die beskuldigd­es verskyn, sê die staat het nie daarin geslaag om sy saak te bewys nie en vra die hof vir hul vryspraak.

Die saak dien voor streekland­dros Daniel Boks en is vir uitspraak tot 31 Augustus uitgestel.

Al ses beskuldigd­es word aangehou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa