Graaff-Reinet Advertiser

Man van George speel bode van die hof

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - Die verhoor van ‘n man van Thembaleth­u, George, wat van bedrog en voertuigdi­efstal aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis uitgestel.

Roelf Paulse (55) het na bewering in April 2019 vervalste dokumente aan ‘n prokureur in Oudtshoorn verskaf, hom in Mei 2019 as ‘n bode van die hof voorgedoen en beslag gelê op ‘n Volkswagen Golf.

Patrick Arendse (29) het verlede week getuig dat hy die motor in September 2013 vir R17 000 by Paulse gekoop en kort daarna vir R12 000 aan ene, Deon Ewerts, verkoop het omdat hy toe die geld dringend nodig gehad het.

Die voertuig was toe nog op die naam van Paulse geregistre­er.

Arendse het getuig dat iemand hom na Paulse verwys het en hy toe saam met Paulse na Capitec gegaan het. Hy het Paulse R7 000 kontant gegee en R10 000 na sy bankrekeni­ng oorgeplaas.

Paulse het glo nie die betrokke dag sy ID by hom gehad nie, maar het belowe dat hy ‘n kopie daarvan aan hom sal verskaf wat hy nooit ontvang het nie. Paulse se regshulppr­okureur, Wenzel Botha, het dit aan Arendse gestel dat Paulse R21 000 vir die motor wou gehad het en hy (Arendse) R15 000 as deposito betaal en hulle ooreengeko­m het dat Paulse die eienaar van die motor sou bly totdat die balans betaal is.

Arendse ontken dit.

“Daar was nie so ‘n ooreenkoms nie,” het Arendse getuig.

Botha het die hof meegedeel dat hy moontlik Arendse terug sal roep indien nodig.

Die saak dien voor streekland­dros Sylvia Mandla en is vir verdere getuienis tot 19 September uitgestel.

Paulse se borgtog van R500 is tot dan verleng.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa