Griffie-onnie kry toekenning vir uitnemendheid
OUDTSHOORN - Ashleigh Taljaard, ‘n gr. 2-onderwyser van Laerskool van Reede is Vrydagaand vereer met WKOD-toekenning vir uitnemendheid in laerskoolonderwys.
Die toekenning is tydens ‘n formele geleentheid in Kaapstad aan haar oorhandig. Die nasionale onderwystoekennings word jaarliks aangebied om onderwysers te eer vir die bydrae wat hulle tot onderwys lewer. Vrydagaand se geleentheid was gehou om die Wes-Kaapse presteerders aan te wys.
Taljaard dring nou deur na die nasionale toekennings wat in Oktober aangekondig word. Sy moet eerskomende Maandag in Johannesburg wees vir die onderhoude.
Sy het 16 ander genomineerde onderwysers in dié kategorie uitgestof.
Wat haar van ander onderskei het was haar inisiatief om verlede jaar, tydens die grendeltydperk toe skole gesluit was, haar eie YouTube-kanaal te begin waar sy vir haar leerders klas aangebied het en ook ouers gehelp het om hulle kinders prakties tuis te leer.
“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het ook die video’s op hulle e-Portal gebruik om kinders regoor die Wes-Kaap te help,” het sy verduidelik.
Taljaard is reeds agt jaar ‘n onderwyser waarvan sy sewe jaar by Laerskool van Reede in diens is.
“Om die toekenning te kon ontvang was vir my ‘n groot eer en voorreg. Dit is lekker om te weet dat die moeite wat mens insit raakgesien word en dat mens erkenning kry daarvoor.”
Taljaard het haar skoolhoof, Johnny Bischoff, wat haar vir die toekenning ingeskryf het, bedank.