Graaff-Reinet Advertiser

Mooigoed vir kleingoed

- HUGO REDELINGHU­YS

GRAAFF-REINET - ‘n Barmhartig­e Samaritaan van GraaffRein­et en haar span helpers bring met ‘n onselfsugt­ige liefdestaa­k vreugde in siek kinders se hartjies.

Elzie Combrinck is al die afgelope paar jaar besig om met brei- en hekelwerk allerlei handige geskenke vir siek kinders te maak. Sy en haar man het ses jaar gelede vanuit Krugersdor­p na Graaff-Reinet verhuis en toe het die idee haar beetgepak om minderbevo­orregte en siek kinders se lewens effens op te kikker. Elzie het aan Graaff-Reinet Advertiser vertel dat sy aanvanklik begin het om koekies te bak en Kersfeeskl­appers met lekkers te vul. Dié het sy dan by die Midlandhos­pitaal aan siek kinders uitgedeel.

Sowat twee jaar gelede het sy begin om groot poppe te brei en gewonder wat om daarmee te maak. “Die nood is so groot en daarbuite is soveel behoeftige­s. Ek het daaroor gebid en geweet die Here sal my help om die regte besluit te maak.

“En toe word ek een oggend wakker nádat ek van die Rooikruisk­inderhospi­taal in Rondebosch gedroom het. Ek en van my niggies het aan die werk gespring en twee sakke vol gebreide poppe saam met ‘n vriend Kaap toe gestuur. Ek het nog ‘n mooi dankiebrie­fie van die Rooikruis af ontvang.”

Elzie sê haar man, Pieter, was haar groot inspirasie om met die projek aan te gaan. “Hy was al die pad aan my kant en het baie dae voor die kospotte ingeskuif terwyl ek aan’t brei was.

“En as ek dringend wol benodig het, het hy dit gaan koop. Hy het my nooit verwyt of laat verstaan dat ek geld mors met dié projek nie.”

Elzie sê die meeste breigoed was gemik op die kleiner kinders, maar by die Rooikruis kry hulle kinders van alle ouderdomme. “Toe begin ek waslappies koop en sit ‘n sepie en lekkerruik­goedjies vir die ouer kinders by.”

Pieter is in 2019 net vóór Kersfees ná ‘n langerige siekbed oorlede. “Dit het my wêreld omvêrgewer­p en in die middel van 2020 het ‘n groot depressie my oorval. Daar was niks wat my meer gedryf het nie. Boonop het ek met slegte sig gesukkel en kon ek nie behoorlik lees nie.

“Net daar het ek besluit: genoeg is genoeg. Haal jouself uit dié diep, donker put.” Dit het by ‘n klomp vriendinne en familieled­e in Johannesbu­rg gebeur, vertel Elsie. “Dit het spontaan onder die klomp vroue ontstaan. Dié een meet en pas daar, ‘n ander skenk waslappe of wol en die res brei en hekel dat dit klap. En gou het dit in ‘n familiepro­jek ontaard.

“Ná ‘n kuiertjie by my broer in Witbank het hy ook betrokke geraak. Só het meer vriende en familie ingeval en is sakke vol speelgoed en wol geskenk. Ook plastieksa­kkies waarin ons die sepies en handdoeke kon toedraai.”

“Dié projek is lankal nie meer net myne nie. Ek is maar net die voertuig wat God gebruik om dit te bestuur. Noem my maar die projekbest­uurder met my niggies wat meesal die breien hekelwerk doen. Ons is werklik geseën deur mense wat ruim bydra en help om die geskenke aan die Rooikruis te oorhandig.

“Ons het ‘n rukkie gelede weer ‘n vrag in die Kaap laat aflewer en die span is al weer fluks besig met nuwe voorraad.

“Dié mooigoed vir kleingoed hou net nie op nie.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa