Lasbrief vir klaer wat wegbly van hof
DYSSELSDORP - ‘n Lasbrief is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof gemagtig vir die arrestasie van een van die klaers in die saak teen vyf beskuldigdes van Dysselsdorp wat teregstaan op twee aanklagte van menseroof en twee van poging tot moord.
Shane August (19), Walter Abrahams
(21), Patrick Prins (29), Deshwill Lingerveld (35) en Tadeo Sibanda (27) word daarvan aangekla dat hulle op 26 Oktober 2020 twee mans, Lee Marco Tamboer (26) en Adriaan Hector (26), in die kattebak van ‘n motor geforseer en later met ‘n spanhoutjie, ‘n graaf en bierbottels geslaan het en met ‘n skroewedraaier gesteek en ook geskop en getrap het. Tamboer was Maandag weer nie by die hof nie, waarna die staat die hof vir ‘n lasbrief gevra en versoek het dat die saak vir sy arrestasie uitgestel word.
Die vyf se regsverteenwoordigers, Wenzel Botha en Gideon Badenhorst het beswaar aangeteken teen verdere uitstel, maar die beslissing in die hande van die hof gelaat. Volgens hulle vra die beskuldigdes dat die saak van die rol geskrap word.
Twee polisiebeamptes het met die aanvang van die verhoor getuig dat hulle die voertuig van die beskuldigdes met die twee klaers in die kattebak die betrokke aand tot in die informele nedersetting, Riemvasmaak, agtervolg het, maar onttrek het toe nog ses mans uit die hut van Sibanda gekom en op hulle begin skel het. Die saak word deur streeklanddros Sylvia Mandla aangehoor en is finaal tot 27 September uitgestel.