Graaff-Reinet Advertiser

Man lank tronk toe vir moord

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - ‘n 26-jarige man van Bridgton, wat ‘n vriend met ‘n mes in die bors gesteek en aan moord skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof vir vyftien jaar tronk toe gestuur.

Rachmie Mohammed erken dat hy vir Ashrodine Malgas die aand van 27 Februarie 2021 een keer met ‘n mes in die bors gesteek het omdat hy homself verdedig het. Hy het ook erken dat hy onder die invloed van drank en dwelms was.

Volgens hom was hy onderweg huis toe, toe hy die oorledene en nog vriende naby sy huis raakgeloop het. ‘n Stryery het ontstaan oor ‘n wynglas wat hy per ongeluk omgeloop het. Die oorledene het hom met ‘n piksteel oor sy kop en skouer geslaan voordat Mohammed ‘n mes uitgehaal en hom gesteek het.

Die staatsaank­laer, Brandon Smith, het aangevoer dat Mohammed sy weergawe van die aand se gebeure aanpas en dat hy die aggressor was. Volgens hom was dit die oorledene wat homself moes verdedig.

Streekland­dros Sylvia Mandla het bevind dat Mohammed nie homself verdedig het nie en hy ‘n ongeloofwa­ardige getuie was. Volgens haar was die enigste staatsgetu­ie baie kalm en vol vertroue tydens sy getuienis en het geen rede gehad om leuens in die hof te vertel nie.

Daarenteen het die getuienis van die beskuldigd­e se getuie, Dennis Prins, verskil van syne en die getuienis van die staat gestaaf.

Die hof het bevind dat Mohammed vir Malgas met geweld gesteek het met die doel om hom te dood. Die landdros het met vonnisople­gging van Mohammed gesê dat hy nie omgegee het om ‘n ander persoon se lewe te neem nie. Die oorledene is gesteek terwyl hy probeer het om Mohammed te keer.

“Die gemeenskap moet beskerm word teen mense soos die beskuldigd­e wat ook geen berou toon nie,” het die landdros gesê.

“Die feit dat hy ‘n eerste oortreder is, is nie rede om af te wyk van die minimumvon­nis nie. Die hof het egter as genade nie nog vyf jaar by die vyftien jaar gevoeg nie," het die landdros afgesluit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa