Prins Albert potblou
PRINS ALBERT - Ongekende vreugde oor die DA-oorwinning in die tussenverkiesing in Prins Albert het verlede week Donderdag op die dorp geheers. Margy Jaftha, wat maande gelede die Karoo-Gemeenskapsparty (KGP) vir die DA verruil het, het wyk 4 in ’n naelbytstryd vir haar nuwe party ingepalm. Dit volg ná 'n maandelange intensiewe veldtog om kiesers van haar politieke standpunte en beginsels te oortuig. Sy het tot verlede Maandagaand moedig geveg om dié wyk, voorheen ’n sterk KGP-gesinde gebied, vir die DA te verower.
Jafta se oorwinning beteken dat die
Prins Albert-munisipaliteit die eerste in die Sentraal-Karoo word wat nou deur ’n volstrekte DA-meerderheid regeer word.
“Dié oorwinning is ook ’n duidelik aanduiding van die vertroue wat plattelandse kiesers in die DA het,” het Tertuis Simmers, provinsiale DA-leier, in ’n mediaverklaring gesê. “Die DA is in die wolke oor Margy se oorwinning. Dit is die begin van ’n politieke omwenteling in die gebied – nie net vir die Prins Albertmunisipaliteit nie, maar ook vir die res van die Sentraal-Karoo. Die DA het ’n bewese geskiedenis van skoon regering en uitstekende dienslewering waar dié party die leiding neem en Prins Albert sal ’n uitmuntende voorbeeld wees van wat ons na die res van die gebied kan bring.”
Die DA het 50,6% van die stemme op hom verenig teenoor die KGP se 48,49%, die EFF se 0,62% en ARA se 0,29%. Die stempersentasie was 75,51%.
Jafta het dus haar politieke vennoot van voorheen, Goliath Lottering van die KGP, uitgestof in ’n wyk wat allerweë beskou is as een van die dorp se sterkste KGPgesinde gebiede.
Lottering was tot die nasionale munisipale verkiesings verlede jaar vir twee termyne burgemeester van die dorp. Hy is ondersteun deur Gayton McKenzie (Patriotic Alliance), burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit.
Jaftha het haar ondersteuners, sowel as die DA-leierskap, vir hul ondersteuning en hulp bedank vir haar sukses, ondanks groot vlakke van intimidasie by die stembusse gister – so erg, dat die polisie ingeroep moes word, het politieke leiers aan Oudtshoorn Courant gesê.
Linda Jaquet, waarnemende burgemeester, het by navraag gesê Jaftha se oorwinning is van groot betekenis vir die dorp en streek, omdat die DA se volstrekte meerderheid in die raad dié party nou ’n mandaat gee vir beginselvaste bestuur en uitnemende dienslewering.
Volgens Gay van Hasselt, DAverkiesingshoof, “Beteken die volstrekte DA-meerderheid die einde van kaderontplooiing. Nou kan aanstellings in die administrasie gedoen word op grond van bevoegdheid en geskiktheid.”