Aberdeen-gemeenskap opper besware teen polisie
ABERDEEN - Kol. AJ Arends van Graaff-Reinet SAPD het Dinsdag 'n afwagtende Aberdeen-gemeenskap voor die gemeenskapsaal in Thembalesizwe toegespreek.
Die vergadering, gefasiliteer deur kapt. Smit, bevelvoerder van SAPD in Aberdeen, was die uitvloeisel van 'n reeks gemeenskapsaksies verlede week na nóg 'n winkelinbraak Sondagnag, 18 September.
Boerie Holmes, een van die sameroepers, was die voorsitter van die vergadering en het die gemeenskap herinner dat dit ‘n ordelike, produktiewe vergadering moes wees.
Holmes het die lywige agenda voorgelees en benadruk dat slegs die punte op die agenda bespreek sou word. Punte onder bespreking het ingesluit die tekort aan polisiepersoneel, tekort aan polisievoertuie, onnetheid van die plaaslike polisiestasie, gedrag van polisielede, korrupsie onder polisielede en die ondersoek daarvan, beskerming van polisie- en gemeenskapslede se veiligheid, asook terugvoer op verlede week se saak teen die beskuldigde wat toe in die plaaslike landdroshof verskyn het.
Arends het erken en bevestig dat daar in die hele distrik ‘n tekort aan personeel is, deels te wyte aan die impak van Covid, maar het die onderneming gegee dat die tekort dringend aangespreek sal word.
Beide Arends en Smit het aandagtig geluister na die besware oor veral die beweerde langdurige korrupsie onder sekere polisielede. Arends het die gemeenskap versoek om van die tolvrynommer gebruik te maak om klagtes te lê teen sodanige beamptes. Alternatiewelik moet gegriefde lede van die publiek sodanige beamptes by IPID aanmeld. Daar is ook ‘n versoek gerig dat twee lede uit die gemeenskap aangestel word om die polisie te help om korrupsie uit te wys.
Uit verskeie sprekers se bydraes was dit duidelik dat die gemeenskap wantrouig is teenoor van die SAPD-lede, soveel so dat van hulle wesenlik vrees vir hulle eie veiligheid. Wat die situasie vererger, is dat korrupsie en onaanvaarbare gedrag van sekere polisielede al vir lank aangaan en oënskynlik bly die situasie onveranderd.
Die Aberdeen-gemeenskap word vir geruime tyd deurlopend geteister deur verskeie misdade, maar veral inbrake en diefstal. Die algemene slotsom van die gemeenskap is dat dié misdade direk verband hou met die immer stygende dwelmmisbruik deur veral die jonger garde en ‘n plaaslike polisiemag wat kennelik nie by magte is om die misdaad hok te slaan nie.
Op Woensdag 21 en Donderdag 22 September het inwoners sekere persone wat deur die gemeenskap geïdentifiseer is, letterlik uit die dorp uitgejaag. Daar is aangedring dat die polisie verseker dat dié persone buite die dorp bly en "teruggaan vanwaar hulle kom". Die gemeenskap staan vas dat hulle nie langer "Inkommers" wat dwelms verkoop, sal duld nie - met of sonder die polisie se samewerking.
Die gemeenskap het ook Donderdag, 22 September betoog voor die plaaslike landdroshof met die duidelike boodskap dat geen borgtog toegestaan moet word aan beskuldigdes in dwelmverwante sake nie.
Die gebied wat die plaaslike SAPD moet bedien, is groot en uitgestrek. Dit beslaan ‘n gebied wat strek van 80 km langs die N9 tussen Graaff-Reinet en Willowmore, 25 km suid-oos na Klipplaat en ongeveer 70 km wes na Beaufort-Wes. Dan is daar ook ongeveer 100 kommersiële plase in die area. Daar is inderdaad ‘n wesenlike tekort aan personeel met net drie tot vier lede op elke skof. Wanneer ‘n insident op ‘n plaas gerapporteer word, neem dit tot ‘n uur om die bestemming te bereik en dan laat dit dikwels die dorpsgebied sonder enige ander voertuie of personeel.