Graaff-Reinet Advertiser

Hugo blink uit met 16de digbundel

- MARLENE MALAN

PRINS ALBERT - Die Prins Albertse digter, Daniel Hugo, het vanjaar se prestigery­ke ATKV-prys vir poësie gewen.

Die ATKV-Woordveert­jie 2022 is aan hom toegeken vir sy sestiende digbundel, Klinkklaar, wat verlede jaar by die uitgewer Protea Boekhuis verskyn het. ’n Skildery van die kunstenaar Diane McLean van De Rust vorm die voorblad. Soos Hugo se gedigte, beeld dié skildery talle Karoo-elemente uit.

Hugo het gesê hy is geëerd en dankbaar oor die prys omdat dit erkenning gee aan harde en dikwels eensame skryfwerk. “Ek skryf al langer as vyftig jaar gedigte - die eerste was toe ek in standard agt in Windhoek was. Deur al die jare het my temas onverander­d gebly, naamlik die natuur, die liefde, die dood en die digkuns oftewel gedigte oor gedigte, oor die skryf van gedigte en oor ander digters.”

Die Karoo en sy lewe in Prins Albert speel ’n groot rol in sy werk. “Ek dig oor die Swartberg, die leivore, die vetplante, die voëls, my hond - vernoem na die digter Emily Dickinson; ook die aggressiew­e muskiete wat jou lewe versondig. Die klimaat hier is baie dieselfde as dié van Namibië; die droë hitte in die somer, die droë koue in die winter. Maar hier maak ek ’n kaggel- en braaivuur met die soetdoring­hout van die omgewing. Dis alles dinge wat my inspireer.”

Sy beste idees kom soggens vroeg na die oppervlak, sê Hugo, “wanneer dit nog donker is." Dis wanneer beelde, rymklanke en ritme vir my die helderste is. Soms is dit ook ’n taalversky­nsel, ’n uitdrukkin­g of ’n woord, of iets wat iemand sê, wat my aan die dink sit. Ek weet nie altyd waarheen ’n gedig op pad is nie; ek ontdek dikwels ál skrywende. Die skryf van poësie is ’n proses. ’n Gedig kry ’n lewe van sy eie en lei my.”

Wanneer hy nie dig nie, vertaal hy boeke uit

Nederlands en Engels in Afrikaans.

Hugo se gunsteling­digters in Afrikaans is DJ Opperman, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Ina Rousseau, en in Engels Robert Frost, WH Auden, Seamus Heaney en Gus Ferguson.

“Ek beskou die digkuns as die hoogtepunt van enige letterkund­e - dis ook die oudste. Tot seker so driehonder­d jaar gelede, totdat die roman sy verskyning gemaak het, is alle verhale in versvorm geskryf.”

Oor die titel van die bundel sê Hugo poësie is vir hom in die eerste plek klank, “maar gedigte moet ook helder wees, nie troebel nie. Die ‘klaar’ het daarmee te doen dat gedigte afgerond moet wees, dat die slotreël by die eerste reël moet aansluit”, verduideli­k hy.

Die kompetisie­beoordelaa­rs het van Klinkklaar gesê dit verteenwoo­rdig die hoogtepunt in Hugo se omvangryke oeuvre. Hy gebruik die elemente van die digkuns op ’n slim, deurdagte manier. Die bundel is ’n heerlike spel met die werk van klassieke digters soos Dylan Thomas, EE Cummings en Emily Dickinson, en ’n mengsel van ernstige en ligte reflekteri­ng op die lewe.

 ?? Foto: Marlene Malan Klinkklaar. ?? Hugo met sy digbundel,
Foto: Marlene Malan Klinkklaar. Hugo met sy digbundel,

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa