Skaapskêrsteker kry 8 jaar gevangenisstraf
OUDTSHOORN - 'n Man van De
Rust met twaalf vorige veroordelings, is in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Isak Sauls (38) is skuldig bevind op drie aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, maar onskuldig bevind aan poging tot moord.
Sauls het onskuldig gepleit en aangevoer die klaers het hom verkeerdelik geïdentifiseer as die aanvaller. Hy het ontken dat hy op 13 Julie 2019 met ‘n mes na Trevor Potgieter gesteek het, ten spyte van die getuienis van Maria Smith wat die voorval gesien het.
Smith het getuig dat sy die beskuldigde reeds 13 jaar ken en hy haar vanuit die tronk met die dood gedreig het.
Sauls het ook ontken dat hy op 24 Augustus 2019 vir Zanelie Wellman met ‘n mes in haar nek gesteek het en op dieselfde dag vir Danville Konstabel en Jaftha Swartbooi met ‘n ou skaapskêr gesteek het. Hy het aangevoer dat Konstabel en Swartbooi die klagtes teen hom gelê het omdat hulle nie gelukkig was met sy verhouding met Wellman nie.
Streeklanddros, Ntsoki Moni, het bevind dat Sauls se getuienis nie aanvaar kan word nie aangesien hy en die klaers mekaar ken.
Hy is egter onskuldig bevind op die aanklag van poging tot moord omdat Wellman nie mediese behandeling gekry het nie en ook besluit het om nie te getuig nie.
“Die hof kan nie op ander se getuienis gaan nie. Sy is lewendig en kom nie hof toe nie. Dit sou ‘n ander saak gewees het indien dit moord was,” het Moni gesê.
Sauls het hom volgens die landdros weerspreek in sy getuienis ten opsigte van Potgieter en kon nie verduidelik waarom Potgieter vir hom weggehardloop het nie. Swartbooi en Konstabel is wel beseer en die beskuldigde was saam met hulle.
“Die hof is tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het,” het Moni gesê.
Die vonnis geld samewerkend vir al drie klagtes en die landdros het in ag geneem dat Sauls reeds vir meer as drie jaar in aanhouding is. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.