Astrobaan vir Struisies
'n Splinternuwe astro-hokkiebaan vir Hoërskool Oudtshoorn sal binnekort die lig sien. Volgens die skool se sportprojekbestuurder, Kalbas Nell, word hierdie projek vir nie later as 2023 beplan en sal dit teen 'n geraamde koste van
R6,5 miljoen opgerig word.
Nel verduidelik dat die skool se sportbyeenkoms waar die Old Boys-rugbyspan, Netbalvroue en Hokkie-Bokkies saam met die Grootvoël-boeremusiekfees die afgelope naweek in aksie was, juis deel uitgemaak het om dié projek te finansier.
“Ons voorneme is om 'n astrobaan met die nuutste beskikbare tegnologie vir die gemeenskap beskikbaar te stel om ook sodoende plaaslike hokkieontwikkeling te laat seëvier.“
Die baan, wat op die huidige B-rugbyveld gebou sal word, sal dan ook beskikbaar wees vir nasionale wedstryde en oefenkampe.
As 'n besigheid het die verkoopsbestuurder van Klein Karoo Toyota, Jacques Terblanche, reeds sy steun toegesê en beloof dat elke voertuig wat vanjaar by hulle gekoop word met vermelding van die Grootvoëlboeremusiekfees, dié kommissie daarvan na die oprigting van die astrobaan sal gaan. Alle kontantborge of skenkings van enige aard sal ook verwelkom word.