Le Roux maak naam in vermaaklikheidswêreld
KANNALAND - Die skrywer en aktrise Raydene le Roux van Ladismith is besig om opspraak in die vermaaklikheidswêreld te maak. Le Roux speel nie net verhoë aan die brand nie, maar het al op televisie verskyn en het nou haar eie produksie, Onder die Brug, geskryf. Hierdie produksie is onlangs suksesvol by Artscape opgevoer.
Dié verhoogstuk hanteer die probleem van haweloses in stede en meer spesifiek, Kaapstad. Die produksie het in Augustus vir drie dae by die KunsteKaap-teater in Kaapstad gespeel. In hierdie produksie word daar onder andere gesoek na redes vir die lot van haweloses. Daar word ook uitgebeeld hoe 'n jong man op die straat beland. Hy vertel dat hy drome soos enige ander kind gehad het, maar dinge het egter skeefgeloop. In die stuk skraap `n jong vrou (gespeel deur Le Roux self), ook haar moed bymekaar en verlaat haar verhouding waar sy fisies en emosioneel afgetakel is.
Die werklikheid van haweloses lê Le Roux na aan die hart.
"Ek is tans besig om my in maatskaplike studies te bekwaam en het my eie niewinsgewende organisasie ten doel om sodoende dieper na die probleem van jongmense en kinders op straat te kyk en programme van stapel te stuur om hul lot te verander. Alhoewel ek nog studeer, leef ek my droom en is ek deeglik bewus van wat my einddoel is."