All Blacks duik in die hek
All Blacks-rugbyklub se A-span is Saterdagmiddag deur Riversdal Blues in hul spore met 26 - 25 gestuit in die
SWD Super B-liga se halfeindstryd by die Bridgton-sportterrein. Die halftydtelling was 18 - 13. Riversdal het die wedstryd met 'n opportunistiese skepskop in die laaste vyf minute gewen. Damon Gysman, voorsitter van All Blacks-rugbyklub het na die wedstryd gesê dat sy span minstens twee definitiewe kanse om drieë te druk deur hul vingers laat glip het.
"Baie van ons opwindende spelers is nog jonk en onervare in groot wedstryde, maar ons sal definitief weer opstaan en ons ondersteuners en Oudtshoorn trots maak."
Die eindstryd van die SWD Super-B-liga word Saterdag by Outeniquapark in
George gespeel.