Graaff-Reinet se helipad het hulp nodig
GRAAFF-REINET - ‘n Ernstige beroep word op die gemeenskap gedoen om by te dra tot die opknapping van Graaff-Reinet se noodlandingsplatform vir helikopters, alombekend as 'n helipad.
Die gehawende toestand van die platform het verlede week onder die vergrootglas gekom toe ‘n AMS-reddingshelikopter daar moes land om ‘n 15-jarige seun te hulp te snel nadat hy so ernstig aangerand is dat hy, weens sy kritieke toestand, vanaf GraaffReinet na die Livingstone-hospitaal in Gqeberha gevlieg moes word.
Ten tyde van hierdie insident het die plaaslike hoof van patologie, Jacques Wagner, uitgewys dat die platform in 'n baie swak toestand is en dat dit toekomstige reddingsoperasies kan verhoed.
Samantha Graham-Maré, DA LP, het intussen bekendgemaak dat die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement onlangs die gebruik van die AMS-reddingshelikopter om pasiënte wat nood mediese sorg benodig na die hospitaal te vlieg heringestel het. Dit beteken dat daar in die toekoms nog pasiënte sal wees wat van die Midland-hospitaal in Graaff-Reinet na Gqeberha gevlieg sal word vir noodbehandeling.
‘n Tweede landing op die verweerde platform was inderdaad reeds genoodsaak op Sondag 29 Januarie toe die AMSreddingshelikopter ‘n pasiënt wat in ‘n motorongeluk op die N9 tussen GraaffReinet en Middelburg betrokke was moes oppik. Dit is daarom van uiterste belang dat die helipad opgeknap en in stand gehou moet word, maar ongelukkig kan niemand daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Die terrein behoort wel aan die departement van gesondheid, maar die platform self is tot stand gebring deur ‘n privaat gemeenskapsprojek ten einde ‘n diens aan die gemeenskap te lewer.
DA-raadslede Joy Williams en Sakkie van Zyl het verlede Vrydag die platform besoek om oorsig te doen en vas te stel wat die omvang van die nodige herstelwerk behels. Die platform is oorgroei met gras en onkruid en moet skoongemaak word. Die wit sirkel en die H in die middel moet ook oorgeverf word. Hierdie sirkel en H dui aan waar die helikopter moet land en moet dus duidelik vanuit die lug sigbaar wees.
Die windkous moet ook vervang word omdat die een wat tans daar is heeltemal aan flarde is. Volgens Van Zyl is daar reeds ‘n onderneming van die munisipaliteit se verkeer, wetstoepassing en rampbestuur afdeling om die nodige mannekrag beskikbaar te stel om die verfwerk te doen. Williams het onderneem om met die direkteur van gemeenskapsdienste, Gewnynne Hermanus in verbinding te tree om uit te vind watter bydrae sy afdeling kan lewer. Sy het ook genoem dat sy haar "geliefde CWP-span" sal vra om in te spring indien nodig. Al wat dus op hierdie stadium nog kortkom is die windkous en 25-liter wit verf, maar die fondse daarvoor ontbreek.
Die gemeenskap word aangemoedig om in hul sakke te krap om te help om hierdie items aan te koop omdat die platform vir almal tot voordeel is.
Diegene wat ‘n bydrae wil lewer kan Wagner by 066 303 8844 of Graham-Maré by 083 409 9196 kontak of e-pos na samanthajgraham27@gmail.com.