TWEEDE STEM Reusereaksie laat noodligte flikker
Verlede Donderdag, 26 Januarie, het 'n berig op www.graaffreinetadvertiser.com verskyn oor ‘n noodsituasie in GraaffReinet.
Die nuus was skokkend vir drie redes:
1. ‘n 15-jarige seun is so ernstig aangerand dat hy in 'n koma verval het;
2. Graaff-Reinet - die grootste dorp in die Kamdeboo - beskik nie oor die nodige mediese fasiliteite en/of kundigheid om so 'n geval te hanteer nie; en
3. Graaff-Reinet se helikopterplatform is in 'n slegte toestand en mag toekomstige reddingspogings belemmer.
Met baie meer as 3 000 aanlyn-reaksies op die berig, Kind per heli na Gqeberha na erge aanranding, en 'n reikwydte van oor 'n miljoen mense, het lesers se sosiale betrokkenheid uitgestaan. Baie lesers was kwaad oor wat hulle gesien het as te min inligting oor die aanranding en die feit dat daar in dieselfde berig oor die toestand van die landingsplatform berig is.
‘n Ononderhandelbare standaard van Graaff-Reinet Advertiser is dat daar slegs verslag gedoen word oor gebeure gerugsteun deur feite - wilde bespiegelinge word nie as feite gepubliseer nie. Belangrike nuus word so gou moontlik gebreek, want die publiek verdien om ingelig te bly, maar etiese en feitelike beriggewing is allerbelangrik.
Omdat min feite op daardie stadium bekend was, kon slegs berig word dat ‘n 15-jarige seun uiters ernstig aangerand is en dat hy na 'n hospitaal in Gqeberha geneem is.
Navrae is daarna aan die polisie-woordvoerder vir die Sarah Baartman-distrik
(onsuksesvol) gerig; die polisie se distrikskommissaris in die Sarah Baartman-distrik; die direkteur van kommunikasie van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartment (onsuksesvol); asook ander rolspelers.
Een van hierdie navrae het daartoe gelei dat generaal-majoor Zolani Xawuka, polisiedistrikskommissaris in die Sarah Baartman-distrik, opdrag gegee het dat daar ‘n MAS-nommer (Misdaad Administrasie Sisteem) geregistreer moes word.
Sonder afbreuk aan die skokkende realiteit dat ‘n kind in 'n kritieke toestand moes veg om sy lewe, bly die waarheid dat die Groot-Karoo se Oos-Kaapse platteland in ‘n benarde posisie is betreffende dringende nood-mediese versorging. Dit is ook onverskoonbaar dat helikopters moet land op 'n platform oortrek met onkruid - sonder 'n windkous en spreiligte. Die feit dat die platform enigsins bestaan is te danke aan gemeenskapslede en plaaslike besighede en dra die owerhede glad nie by tot die onderhoud of die nodige toebehore nie. Die publiek moes bewus gemaak word daarvan - dis ‘n wesenlike tekortkoming wat potensieel enigeen in nood kan raak - soos tereg deur iemand verwoord is onderaan die berig op Graaff-Reinet Advertiser se Facebook-blad.
‘n Opvallende kommentaar was dié van Richard Harmans. Sy kommentaar skets ‘n situasie waarin die pa van ‘n 15-jarige seun telefonies deur sy buurman ingelig word dat die seun die buurman se huis se venster met ‘n klip stukkend gegooi het
“en stomp gerook (is) van drugs...” en dan sy brandende, relevante vraag: “Wat doen jy as pa?”
Die eerlike radeloosheid van talle ouers is opvallend in hierdie kommentaar. Want, wat doen jy?
Soveel ander kommentare het ook die wesenlike kommer van ouers verwoord - oor wat met kinders mag gebeur, maar ook oor wat kinders sélf mag doen. Ons leef in ‘n sosiale bestel waar die morele kompas se ware noord drasties geskuif het. Ook misdaad neem konstant toe. Die vloedgolf kommentaar op die berig beaam dat selfondersoek en veral die rig van ons jeug se morele kompas al dringender word. Ons kinders is van koers af.