Graaff-Reinet Advertiser

SO BLIND SOOS ‘N MOL

-

Ek is oortuig daarvan dat mens, hoe ouer jy word, al slegter begin sien!

Wanneer ons jonk is het ons nie plooie nie, ons tande is nog wit en ons hare het nie grys garingdraa­djies in nie - en ons het ‘n 20/20 visie. Wanneer ons die 40-jare slaan begin ons plooie ontwikkel, hier en daar ‘n grys haar kry en (hopelik van al die koffie drink) begin ons tande verkleur.

Dis ook rondom hierdie tyd wat jy nie meer so lekker kan sien nie - jou arms raak te kort en ‘n leesbril is soms net nie naby genoeg dat jy dit kan gebruik nie.

My teorie is dat die liefde van jou lewe dan altyd ewe mooi vir jou bly want jy sien nie die plooie en grys hare nie.

So is dit ook ‘n groter probleem wanneer jy gaan uiteet - ek het nooit opgelet hoe klein die skrif op ‘n spyskaart is nie, om nie eens te praat van die gebrek aan behoorlike lig om die spyskaart te besigtig nie.

Dis wanneer jy bly is as manlief dieselfde ouderdom as jy is en jy nie ‘n jonger liefde gekies het nie - mens kan dan sommer die leesbrille­tjie deel. So deel ons oor die naweek hierdie frustrasie met van ons vriende en sê hulle dat as die leesbril nie byderhand is nie gebruik hulle die foon se kamera om ‘n foto van die spyskaart te neem - vergroot die foto op die foon en lees dit maar so - dit neem glo ‘n paar minute langer om die spyskaart te lees, maar dien sy doel.

Met die jare wat aanstap het ons almal al met die goed en die sleg van die lewe te doen gehad - raak die plooie al dieper, die hare gryser en die tande geler - daar is natuurlik botox, vullers, haarkleurs­el en verbleikin­gsmiddels vir tande om die sake aan te spreek. Maar wat gebeur as jy nie die geld het nie en jy net ‘n R100 +1.50 leesbrille­tjie van Clicks af kan bekostig?

Dan sorg jy maar dat jy meer aan die ligkant van ‘n restaurant sit en die brilletjie afhaal wanneer jy na jou geliefde kyk - dan moet ons ook maar leer om dié leesbrille­tjie af te haal wanneer ons so oordeelkun­dig na die lewe ook kyk want after all, jy het ‘n keuse, met of sonder die bril!

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa