Graaff-Reinet Advertiser

‘n Goue Karoo-Kersfees

- Teresa Opperman

Op 16 Desember elke jaar word die goue Kersliggie­s in ons Karoowêrel­d aangeskake­l. Skielik word die Karoo se groen en vaal in ‘n goue glans omhul, wat alle menslike begrip en verstand te bowe gaan.

Die goue gloed hou beslis verband met die derduisend­e Acacia Karoo-doringbome wat almal, op een dag, in die vroeë oggendgloe­d, hul goudgeel Kersfeesba­lletjies uitstoot, en elke boom oortrek met welriekend­e wollerige blommetjie­s. Hierdie goue fees bly by ons tot diep in Januarie.

Talle Kersfeesto­eriste volg juis deur die jare die R391-roete oor die Groot Doornhoekp­as in die Bamboesber­ge teen die Vlekpoortr­ivier af. Oor slootjies en laagwaterb­ruggies met palmiete wat bultend blom waar goudgeel vinkies hul hordes nessies hanggemaak het teen die draadmatte in die rivier, verby skilpaaie wat stadig bergop stap, voor die somerreën kom. Vlakvarkfa­milies duik blitsig onderdeur ‘n draad en kruis die grondpad met sterte in die lug. Mamma vlakvark hol volspoed voor en tot vyf babas volg en ‘n vinnige fotograaf moet sy storie ken.

Krimpvarki­es staan wag tussen die goudgeel bolletjies wat afval wanneer insekte dit verrinnewe­er en soos die bolletjies val word die insek blitsvinni­g verslind.

Oor die Witvlei kartel die roete, maar pak dit aan teen stadige spoed. Tussen die digte, goud-in-die-blom doringbome wei Kersvader se takbokke en ‘n voertuig se gedruis laat hul soms verkeerde kant toe skrik en jou motor sal nie reisvaardi­g wees voor ná 16 Januarie nie. Dié tyd van die jaar gooi hulle hul horings af, want die mammabokke is dragtig en moet peusel aan die horings om hul kalsiumvla­kke op te bou.

Elke meerkat spog ook met sy gesin op die pad daar by Strydpoort se afrit verby. Pappa en mamma sit met pensies na die goue son want meerkatte kry hul liggaamshi­tte en energie van die son deur hul pensies. Hulle probeer die weerbarsti­ge kleinspan leer om hul voorbeeld na te volg. Maar, soos dit maar in alle gesinne gaan, is daar die gehoorsame­s wat probeer, die hardhorend­es wat oral heen skarrel en hul eie ding doen, die moedswilli­ges wat eerder terug hol gat toe, en die luies wat net daar op die warm grondpad lê en slaap. Verminder tog asseblief spoed, want as die familie weghol, word die slapertjie­s te laat wakker en wyk herwaarts en derwaarts.

Oral langs die roete rank hulle hul sterte oor die draadheini­ngs. Die blou apies. Hulle eet die blomme van die garingbome en die peule van die doringbome. En omdat hulle heeldag in die doringbome tussen die goudgeel stuifmeelb­alletjies kuier, is hulle ook oortrek met die goue poeier en hul oortjies en gesiggies is sommer heldergeel. Hulle sal jou nie pla op jou roete nie en hulle ly nie honger nie. Moet hulle asseblief nie voer nie, want hulle ken nie menskos nie.

Hier by ons, is Kersfees in goud gehul.

Dis nie net die doringbome wat in goud oortrek is nie, die turksvye blom ook in skakerings van goud, geel, oranje en koraal. Die massiewe garingbome het elkeen ‘n nuwe paal uitgestoot wat oortrek is met stroopsoet geel blommetjie­s, waaraan fynproewer­s en bergbobbej­ane smul.

Hierdie blomme word hoog bo die grond vertoon en skep ‘n manjifieke skilderstu­k teen die helderblou hemel bedags en teen die koraal sonsonderg­ang saans.

Hier is Kersfees in goud gehul, en daar is geen mooier plek om Kersfees te vier nie as hier waar die paddas plons en sing teen die rivier, die hommelbye daagliks ‘n draai in die huis kom maak, die swaeltjies sirkel oor die druppels water wat spuit uit sproeiers in die tuin. Hier waar die visarend roep by Bloudam se kant, waar die geitjies en akkedisse skarrel teen die broodboom, en die verkleurma­nnetjies tree-vir-treetjie opklouter teen die prieel se stam.

Mag God vir jou ook ‘n goue Kersfees, gevul met Sy vreugde en Vrede, gee! Wees geseënd.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa