Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Wanneer jy iemand lewenslank ken

- Teresa Opperman

Elkeen het so iemand, wat net altyd nog daar was. En dit is hoe tannie Celia vir my was. Sy was altyd maar net daar. ‘n Telefoonop­roep ver. Hier by my is resepteboe­ke vol geskryf van haar wenresepte, plantjies uit haar tuin, raad vir tandpyn, jig, brandboudj­ies, rumatiek en hoe om hardnekkig­e vlekke uit te kry. Alles sommer so vinnig, vinnig afgeskryf terwyl sy daar van Spes Bona af op haar telefoon beduie het.

As ‘n groot vriendin van my ma, het ek haar baie vroeg in my lewe leer ken. Ek kan eintlik glad nie ‘n tyd onthou wat ek nie geweet het van haar nie. Die fyn vroutjie, met die netjiese uitrusting­s, kort kapsel, pragtige skoene was altyd haastig, want sy was besig. Baie besig en baie haastig, tog het sy gereeld by ons aan huis gekom en dan heerlik saam met ons ma tee gedrink.

Daar val die groot geluk my toe te beurt, dat ek na my troue op die plaas kom bly, en die buurplaas se eienaar kom lê gereeld besoek af. Niemand minder as oom Danie, tannie Celia se eggenoot nie. Net so haastig, gedrewe en besig soos sy. Maar nooit daag hy op sonder ‘n pakkie van tannie Celia af nie. Lemoene, vars groente, soms vars eiers, beskuit of koekies, botteltjie­s konfyt, boerseep, of selfs ‘n geslagte hoender.

Dit was altyd ‘n blye gebeurteni­s as die bakkie tot stilstand kom hier voor my naaldwerkk­amer, want dan kon ons vinnig saam koffie drink. Ons eerste yskas kom van

Spes Bona af, en die lesing oor hoe om

‘n paraffieny­skas te gebruik ook.

Later kom ons eerste vrieskas ook van daar af.

Aan raad, hulp, advies, bystand en ondersteun­ing het dit ons nooit tekort geskiet nie.

Soos wat my gesin groei en uitbrei, kom daar breipakkie­s, patrone vir sweetpakki­es en kruippakki­es, en soos die kleinspan groter word, kry hulle op gereelde basis lekkergoed as oom Danie se bakkie stilhou.

Sondagmidd­agetes op Spes Bona was ‘n fees. In die massiewe plaashuis kon kinders verlore raak, en daar was ‘n ruim voorraad speelgoed vir hulle om mee te speel. Die lang gang het handig te pas gekom vir nuwe kruipertji­es en lopertjies. Tannie Celia was ‘n kok by uitstek, en daar was hopeloos te veel kos om op te eet, maar, “die week lê voor, en jy weet oom Danie moet ook ‘n ietsie saamvat Doringkloo­f toe,” was altyd haar antwoord.

Ons het onlangs by ‘n pragtige geleenthei­d van hierdie kosbare buurvrou afskeid geneem. Wat ‘n voorreg was dit nie om haar te kon ken nie. Ek het nou ‘n leemte, want wie sal ek nou bel vir advies? Dankie Carien, dat jy haar afskeid net so ingekleur het soos wat sy daarvan sou hou.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa