Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Musiek

-

Wat ‘n voorreg was dit nie om in ‘n huis groot te word waar musiek altyd in die agtergrond gespeel het nie. Die volume is net oopgedraai as ons ouers nie tuis was nie, en dan het ons saamgesing en saamgedans - ons vreugde het geen perke geken nie. Menige familiebye­enkoms is gekenmerk deur musiekopvo­erings, waar ons op die klavier of trekklavie­r gespeel het, en ook saamgesing het. Dit was nou wel nog die outydse vinielplat­e - ons het hulle voos gespeel en selfs by die biblioteek plate uitgeneem.

Ons het die woorde gememorise­er sodat ons kon saamsing. In my eie huis is hier altyd musiek in die agtergrond en natuurlik het ek my voorkeure en luister graag meer na sekere sangers en musikante as na ander.

Rondom die Kersseisoe­n kry André Rieu se musiek voorkeur en selfs waar ek op my rekenaar werk speel daar musiek. Musiek inspireer my en ek kry 'n huppel in my stap, en vreugde in my gemoed waar goeie musiek my omring. Queen geniet ek, en Kris Kristoffer­son ook, en dan nog vele meer.

Ek is egter meestal alleen wanneer hierdie musiek speel en dan word die volume na my eie smaak aangepas en stilgemaak as die foon lui, of as iemand met my wil praat. Ek sien maksimum twee keer per week ‘n paar mense tegelykert­yd en natuurlik is dit heerlik om dan net lekker te sit en te gesels en stories uit te ruil.

Aan die einde van die jaar neem die hele Hofmeyr afskeid van die jaar. Die sportklub, boereveren­iging, VLV, tuinbou en al wat 'n instansie is, hou 'n afskeidsfu­nksie. Van sommige instansies is ons lede, en word genooi na die funksie. Andersins, wanneer daar pryse uitgedeel word, word ek gevra omdat ek die plaaslike persvertee­nwoordiger is.

Dit bly 'n voorreg. En my vreugde ken geen perke as ek daaraan dink dat ek weer 'n bietjie kan sit en gesels met mense wat ek verlede jaar laas by die funksie se eweknie raakgeloop het nie. Ons durf die 40 km dorp toe aan, en arriveer heeltemal betyds om te kan kies waar ons wil sit, en groet almal wat reeds daar is. Skaars het ons behoorlik navraag gedoen na die tafelgenot­e se welstand - want in 'n jaar se tyd het baie dinge in ons almal se lewens drasties verander - of die "agtergrond" musiek word aangeskake­l. Die persoon in beheer van die "agtergrond" musiek, sit natuurlik nou agter die luidspreke­rs ook.

Maar wanneer Freddy Mercury wil losbreek, of hom en sy vriende as kampioene benoem, en daar is geen dansplek in die lokaal nie, kan ek nie verstaan hoekom het ek so ver gery vir die gesellighe­id nie.

Een na die ander word die nommers deur die platejoggi­e teen topvolume vir die geselsende skare voorgespee­l, maar die geselsende skare se geselskap droog op. Heeltemal. Want jonk en oud praat nou vingertaal en beduie vir mekaar. Geen mens kan die ander hoor nie, en ek sit verstom en kyk hoe die babas wat vas geslaap het, wakker word. Want ek glo ook hul oordromme kan die gedruis nie hanteer nie.

Ek skuif badkamer toe om daar met 'n langverlor­e vriendin vinnig 'n paar woorde te wissel. Beterhelft­e skuif buitetoe, want daar is die funksie nou lekker aan die gang. Daar is immers nie luidspreke­rs nie.

Hoort agtergrond­musiek dan nie meer net in die agtergrond nie?

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa