Graaff-Reinet Advertiser

50 JAAR Dit voel soos gister

-

Teresa Opperman

Inwoners van Cradock het Maandag 4 Maart met groot deernis die vloed van 4 Maart 1974 in herinnerin­g geroep presies 50 jaar nadat die Groot Visrivier sy walle oorstroom het en die onderste kwart van die dorp met hom saamgeneem het. Inwoners het in baie gevalle slegs met dit wat hulle in hul hande kon neem, uit die krag van die water ontsnap. Talle besighede het swaar deurgeloop en sommige het nooit weer hul deure na die massiewe oorstromin­g geopen nie.

Die Grand Hotel, op die wal van die Groot Visrivier, en digby die historiese Gilfillanb­rug, het na dié vloed nie weer heropen nie, en die Mullers se bandewinke­l aan die oorkant van die straat was ook vir ewig gesluit. Die Gilfillanb­rug se aanlope het ook rivieraf gegaan, en was erg beskadig. Talle woonhuise in Rivierstra­at is deur die watermassa weggevee, terwyl talle ander tuistes nie staande kon bly in strate effens hoër op nie.

Woonhuise het tot in Dundasstra­at erge skade gehad en die hele historiese gedeelte van Cradock het tydens hierdie vloed vir ewig verander. Die water is deur die Metodiste kerk, asook deur die Anglikaans­e kerk, en die Fanie Theron Preprimêre skool was ook onder water.

Die Landbank se onderste vloer het ook diep in die water gestaan, en die kluis het vir jare daarna nog na modder geruik, omdat dit bykans onmoontlik was om al die staalkabin­ette uit te haal en skoon te maak.

Hoër Landbousko­ol Marlow se leerders onthou hoe hulle na die koppie agter die skool moes vlug om veiligheid te bereik want die skool en van die koshuise was onder water.

Die Cradockbeg­raafplaas was geheel en al onder water en familieled­e het met groot kommer gaan ondersoek instel nadat die rivier bedaar het, en die wêreld weer begaanbaar geraak het.

Oudinwoner­s haal steeds die stories rondom daardie tyd in Cradock aan.

Johann Henning vertel dat sy ouma wat by die warmwaterb­ronne buite die dorp gewerk het, per helikopter teruggebri­ng is. Jenny Jordaan vertel dat haar verloofde, Abel, in die dorp vasgekeer was met sy bakkie, maar gelukkig kon hy toe die mense help trek met sy bakkie. Roelf Opperman onthou hoe sy pa met hul klein Chevrolet-bakkie ‘n Calitz-gesin na veiligheid gebring het, meubels en al! Sylvia Botha onthou hoe hartseer sy was omdat haar lemoenduif­ies verdrink het. Sylvia was toe in st. 5.

Connie Nagel onthou hoe haar pa se motor weggespoel het en hoe hulle dit later in Mortimer gevind het waar dit in modder begrawe was. Cornelia Weyers was slegs vier jaar oud, maar sy onthou dat hul huis in Rivierstra­at weggespoel het. Ryno van Rooyen onthou hoe kwaai sy ouma oor sy pa was wat in die polisiedie­ns gewerk het hy het kort-kort kom skoon klere soek. Marietjie Opperman was in 1974 ‘n laerskool-onderwyser­es toe die skoolhoof aankondig dat die leerders moes verdaag.

“Eers nadat die leerders uit die skool is, kon ons van die skool se tweede vloer af die vloedwater­s sien wat die atletiekve­lde oorstroom het,” vertel sy.

DR Hill, destydse padinspekt­eur by die Afdelingsr­aad, het na die vloed navorsing gedoen en vasgestel dat daar ook in November 1873 ‘n groot vloed deur Cradock was, en daar is ná daardie vloed ‘n vloedkeerm­uur gebou aan die laer kant van JA Calatastra­at. Dié keermuur is steeds in Cradock, en alle geboue onderkant daardie keermuur het in 1974 ernstige vloedskade opgedoen. Sy aantekenin­ge is beskikbaar by die departemen­t van waterwese in boekvorm, en ook by die aktekantoo­r in Kaapstad.

Die groot klipkerk het ‘n sleutelrol gespeel. Die Moederkerk is die basis van baie van die staaltjies, en soos Marius

Els, vertel baie van die mense wat die vloed oorleef het, hoe hulle op die kerk se trappies gestaan en kyk het hoe die water styg, en alles saamneem wat voorkom.

Cradock het vir maande, selfs jare daarna, nog die impak van die vloed ervaar, terwyl ‘n groot deel van die dorp herstel of herbou moes word, en talle mense met ’n karige nalatenska­p moes voortgaan.

Elkeen wat die krag van soveel water beleef het, sal nooit na water kyk sonder die nodige respek, of selfs vrees nie.

 ?? ?? Hierdie watermerk wys duidelik tot waar die Cradock-vloed in 1974 gestyg het.
Hierdie watermerk wys duidelik tot waar die Cradock-vloed in 1974 gestyg het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa