Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Voorsmake en nasmake

- Teresa Opperman

Ek kuier graag in ‘n gesellige kombuis. As daar ‘n gemaklike stoel, ‘n beker koffie, en beslis iemand anders doenig is voor die stoof, bly dit ‘n groot bederf. Hierdie seldsame geluk val my toe ook onlangs te beurt.

Elkeen het ‘n skerp messie in die hand, want die gereg is ‘n Asiatiese groente roerbraai met noedels. Nie regtig bekend aan my nie, maar ons almal doen vrolik mee. Daar word vars groente gekap, knoffel en verskeie kleure uie. Die noedels prut plegtig op die stoof - ons skraap worteltjie­s en dit saam met die groenbone word in repies gesny. Rooi pepers vol kleur, babatamati­es wat soos lekkergoed proe verskyn en verdwyn, knoffel word geskil en verpulp en die noedels prut steeds voort, terwyl die olyfolie daaroor gedrup word. Murgpampoe­n word in dun skyfies gesny, en die jong brosvars spinasie kraak wanneer dit geknak word, die ertjies spring uit hul doppies wat ook in die mengsel land, en vars suikermiel­ies, eiervrugbl­okkies en sampioene kom laaste by wanneer alles by die noedels ingeroer word. Ons sjef het vir jare haar eie restaurant bedryf, en ons weet ons gaan lekker eet.

Teen 21:00 staan die stomende pot op die buffet. Die gaste kom skep - sommige skep die bakkies bolrond en sprinkel ‘n gerasperde parmesaank­asie oor terwyl sommige eers net ‘n sleepseltj­ie ingooi, net om te proe, om dan later weer ‘n bol-rondvol bakkie te kom skep. Ek hou daarvan om te sien hoe mense noedels eet, en dit is klaar ‘n openbaring. Sommige sny die noedels in klein stukkies en eet met ‘n lepel, ander draai die noedels vaardig vas op die vurk en geniet elke hap. Ander is nie vaardig met die vurkdraai nie, en slurp die noedels ellelank op. En eenkant sit een gas en bekyk die noedels aandagtig. Sy voelvoel so aan die noedels met die vurk. Sy probeer die noedel raak steek, maar noedel-se-kind is te skraal en glip tussen die vurk se tande deur.

Mettertyd kry sy darem ‘n ringetjie wortel te ete, en later ‘n bietjie groente. Maar die noedels bly onaangeraa­k, sy bly net by die voorsmaak.

Mettertyd kom die ete tot ’n einde, en een bakkie noedels staan bykans onaangeraa­k. Sy maak verskoning en gaan slaap. Ons kuier terwyl ons skottelgoe­d was, en ons kuier terwyl ons koffie drink. Ons kuier onsself moeg, en ons kuier die wêreld se probleme weg en ons oë blink want ons deel mekaar se vreugdes. Ons het die heerlikste nasmaak na hierdie ete, en die kuier wat deurgaans daarmee gepaard gegaan het. En wat ‘n voorreg is dit nie, deesdae maak mense nie meer tyd vir saamkuier nie.

Na ‘n dag of drie loop ek haar weer raak. En ek vra haar hoekom sy nie by die noedels deurbraak kon maak nie.

“Ek ken nie noedels nie, en ek het dit nog nooit geëet nie. Ek hou ook nie van vreemde kos nie, ek eet net wat ek ken. Ek het gedink ek sal daaraan proe, maar toe ek die groente proe, toe proe ek die knoffel, en ek hou nie van die knoffel nie. Dit gee my ‘n slegte nasmaak in my mond, en dit laat ‘n mens stink,” antwoord sy.

Toe weet ek, wanneer jou voorsmakie jou ‘n nasmaak gee, mis jy sommer summier die vreugde van die geleenthei­d en verloor jy die voorreg om herinnerin­ge te bou. Al wat jy dan onthou, is die knoffel.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa