Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Fontein se woestyn

-

Alex Lombaard

Dit is 'n droewige, droë seisoen. Meer gereeld as nie kom die wilde wind in die agtermidda­g op en jaag stofperde in die grondpaaie af. Dis asof die reën wat laas jaar so mildelik geval het, sommer tóé al hierdie jaar se kwota ook uitgereën het.

Ek kry vir oom Klaas in sy groentetui­n. Ek het dit al beter gesien, maar oom

Klaas gee nie op nie. Ek sê vir hom hierdie wêreld het 'n dekade of vier gelede darem héél anders gelyk as vandag - eens 'n groen lushof is vandag oënskynlik 'n baken van dorre wanhoop.

Stilte. Net die vaal oë wat die verte intuur ... verby môre en oormôre kyk na waar gister die toekoms vorm. En dan sê oom Klaas: "In elke fontein is 'n woestyn".

Oom Klaas?

"Jong, oom Gert kom anderdag hier aan en later toe ons stap, toe loop hy vir die eerste paar treë ook maar soos ek - so asof sy bene in paaiemente beweeg, want die knieg-skarniere wil nie meer nie. Hy sê toe ja, dis mos die ouderdom: hy vat jou van die kop af ondertoe; of hy vat jou van die bene af boontoe, maar vat, vát hy vir jou. En dis toe wat ek dink: jaaaa Gert, daai jongjare wat jy so ge-Comrades het met die krag en spoed van die jeug se fontein, hmmm, dis tóé wat vandag se woestyn al in jou jeugfontei­n begin groei het.

"Kyk maar hierdie dorp - eens was hier mos water wat geloop het. Toe was dit maklik om te plant. Maar noudat die water nie loop nie - wie plant nou? Fontein se woestyn, sien jy.

"Mors maar met die oorvloed van 'n fontein en dan kyk jy of jy met 'n woestyn se sand jou dors kan les of jou hare kan kam. Want op 'n dag is 'n dag dat 'n fontein se water opraak as jy vir hom mors.

"En net so gaan dit met mense ook. Jy loop iewers 'n mens raak wat gaaf is, so geduldig, innemend, respekvol, pittig man, skoon soetwaterf­ontein. As jy met so ‘n mens te doen het, dan smaak dit vir jou jy drink soet, vars water uit 'n fontein uit. Let maar op en jy sal sien hoe maklik so 'n mens se ordentlikh­eid sommer nounou gemors raak deur ander. Kompleet soos 'n mens wat op ‘n snikhete dag by 'n soetwater fontein aankom en as hy daai water geproe het, dan is hy sommer netnou pens en pootjies binne-in die water om af te koel, sien jy. Maar hy dink nie hoe troebel hy daai water maak nie; hy gee nie om of daar netnou weer uit daai fontein gedrink moet word nie, want lekker is mos lekkerrrrr.

"Hmmm, en as daai dorstige klaar en tevrede en vervuld is, dan gaan hy aan sonder terugkyk, tot hy weer dors raak en die son hom skroeiend uitdroog. Dán onthou hy vir fonteintji­e ... sonder om te dink onderin die soetste fontein lê die droogste woestyn.

"Soos 'n soetwaterf­ontein pure genade op 'n reisiger se pad is, so is die goeie jare en die goeie mense in 'n mens se lewe. Jy kan alles wat die fontein jou bied, opslag uitmors, want dit gaan mos goed, soetwater is in oorvloed. Maar weet dan: jare vorentoe wag 'n woestyn vir jou.”

Oom Klaas sug, druk my skouer met: "Die reën sal weer kom in hierdie wêreld. Maar 'n fontein wat eers sy woestyn gewys het, raak nie sommer weer 'n fontein nie."

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa