Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Paasnaweek

-

Soos Kersfees, word Paasfees ook deur elke huishoudin­g verskillen­d gevier. Ek hoor van gesinne wat kerrievis eet, en ‘n voorraad paaseiers aankoop wat ons gesin ‘n jaar sou hou. Natuurlik kan hul dit doen, want as dit hul kultuur is, pla dit mos nou g’n niemand nie. Daar is immers ook niks lekkerder as tannie Bernice, hier plaaslik, se varsgebakt­e paasbollet­jies nie, Sy deel dit so graag uit want sy weet oor Paasfees is hierdie liefdesgeb­aar besonder kosbaar. Geseënd is die gesin wat ‘n bordjie met tuisgebakt­e paasbollet­jies uit haar kombuis kry.

Ek het in ‘n huis grootgewor­d waar my pa altyd op bystand was oor Paasnaweke. Bitter selde sou dit gebeur dat ons wel oor so ‘n naweek iewers heen gaan. Paasfees is dus tuis gevier, maar ook op ons eie kulturele en besondere manier. En ek weet, hierdie was ook die manier waarop my Granpa en Granny hul Paasnaweke gevier het.

Daar was nooit enige Paashaas betrokke nie. Daarvan het ons later by skoolmaatj­ies gehoor. Maar van Donderdaga­ande was ons huis in besondere stilte gehul met Engelse Paaslieder­e waarna daar geluister is. Op Goeie Vrydag het my Granny geglo dat daar vanaf 12:00 tot 15:00 geen lig in die huis mag inskyn nie. Alle gordyne is toegetrek - dit moes donker wees. Want ons moes die donker beleef. Granny het dan vir ons die verhaal van die lydingstyd en kruisiging met oorgawe, dog in ‘n sagte stem vertel - dit sal my altyd bybly. Nadat die gordyne dan weer oopgetrek word na 15:00 kon ons buite onder die bome gaan sit en gemmerbier en matzo kraakbesku­itjies eet. Met of sonder botter en marmite - dit was ons keuse. Maar sy het nie gehou van ‘n geraas en gedruis op dié dag nie. Paassaterd­ag moes ons ook rustig wees. Boeke lees, inkleur, soos op ‘n Sondag, maar met geen uitbundigh­eid nie. Ons kon wel vir haar help in die kombuis om konfyttert­jies en goudbruin paasbollet­jies met spierwit kruise te bak of gekookte eiers verf.

Opstanding­sondag, met opstaantyd, het daar reeds vrolike kerkmusiek op die ou radiogram gespeel - en Granny het saamgeneur­ie. My Afrikaanse ouma sou summier voor die klavier inskuif en hallelujas speel en ons kon saamsing. Vir ontbyt kon ons varsgebakt­e paasbollet­jies eet en daarna het sy die bak met die geverfde gekookte eiers bedien en elkeen wou natuurlik sy eie handewerk se eier eet. Die opstanding­sverhaal is met groot blydskap en vreugde gedeel en daarna kon ons kinders ons mandjies vat en in die groentetui­n gaan groente en aarbeie pluk vir ‘n opstanding­sfees middagete.

Mettertyd is Granny en Ouma oorlede, maar in ons huishoudin­g is geen paaseiers, selfs nie die winkeleier­s, of paasbollet­jies, voor Paassondag bedien nie. “Dit is immers die teken van die nuwe lewe,” het ons pa ons telkens herinner.

Deesdae is Paasbollet­jies bykans regdeur die jaar by die groot kruidenier­swinkels se bakkerye beskikbaar, en Paaseiers is reeds van Januarie af op die rak.

Hoe moeilik het hierdie veranderin­ge dit nie vir ons as ouers gemaak om by die oeroue tradisies te hou nie. Vandat die Paashaas ook in talle huishoudin­gs sy verskyning gemaak het word paaseiers bykans regdeur die Paasnaweek en ook voor die Paasnaweek reeds uitgedeel. En ons moet daarmee vrede maak, maar steeds bly dit ons plig om die boodskap oor te dra. "Die kruis en die leë graf dui op ons verlossing. Leef dus daardie verlossing uit! “

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa